Sykouse en lipstiffie
As jy jonk én verlief is, breek ’n buitjie reën nie jou spoed nie. Vir wat dan hardloop die twee studente daardie nat Sondagaand na Mowbray-stasie asof Antjie Somers hulle jaag?
Want die laaste bus by die Grassy Park-staanplek, anderkant die duikweg, luier al. As hulle hom mis, is dit hike huis toe. Dis ook al te laat om van ’n tiekieboks ’n barmhartige samaritaan uit die kooi vir ’n lift te bel. Min mense het anyway ’n foon by die huis. Wat nog te sê wiele. Minibustaxi? Uber? Dalk in wetenskapfiksie. Nie in Mowbray, Kaap- stad, dié aand in 1969 nie.
Maar nat en donker is nie die verliefdes se grootste worry nie. Dis die meisie se ma, Sarah Abrahams. Sy sit en wag vir ’n feit al van watter tyd by die huis in haar stoel in die hoek van die sitkamer. Kiertsregop en wawyd wakker. Haar oog op die staanhorlosie op die kaggelrak.
Af en toe dwaal haar aandag na die tapisserie teen die muur langs die kaggel, die bome en wolke. Peter, haar oorlede man, het dit borduur terwyl hy in die teringhospitaal in Brooklyn, Maitland, was. Sy het die meisies – Pat, Jenny, Suzanne en Phoebe – soveel keer as moontlik geneem om hulle pa te sien. Hulle buite die draad; Pa daarbinne. Kom nader en jy kan aansteek, het die hospitaalpersoneel vooraf gewaarsku. Dis van Grassy Park na Maitland ’n bus en ’n trein tot daar en weer ’n trein en ’n bus terug. Pat, die oudste, is al in haar tienerjare. In sy- kouse, hakskoene en gedoende hare kon jy dink sy is ’n werkende jong vrou. En so is ’n paar sent gespaar, want "die werkende jong vrou" het met een van haar tannies se weekkaartjie gereis.
Phoebe was nog nie op skool nie. Of Pa betaalde siekverlof gekry het, onthou sy nie. Wel dat loseerders in Two Gables die pot aan die kook help hou het. "En in daardie tyd het my ma soms gaan char."
Sarah Abrahams was ’n vasberade voorslag-Christenvrou en ge- meenskapsmens. Haar morele waardes onberispelik. In haar hoekstoel in die sitkamer, waar sy vir daai Phoebe en haar kêrel wag, sal sy nie sluimer of slaap nie. Hy’s glad nie ’n onaardige mannetjie nie, maar steeds – sy sit hier tot hulle oor die drempel is van Derdelaan 123, Grassy Park. Oftewel Two Gables – dis hoe almal haar en die dogters se huis ken.
Peter is net die vorige jaar oorlede, maar sy is met ’n trefseker stem en ferm hand aan die bewind in Two Gables. Niemand sal haar en die meisies, waarvan drie nog in die huis is, vir ’n pop vat nie.
En op die Mowbray-stasie op pad busstop toe wil veral die outjie nie die gramskap van die kerksuster-weduwee-mammie op die hals haal nie. Tot nou toe lyk dit asof hy darem aan haar hoë Christen- standaarde voldoen. En mag dit so bly. Want die mooi meisiekind in die reënjas wat hy aan die hand het, is sy troumeisie.
Jakes het nie ’n ons vet aan die lyf nie, en is van gestalte kleinerig. Hierteenoor is sy pligsbesef en verantwoordelikheidsin jeens die op- voeding van sy eie mense groot. Daarom het die meeste akademici en medestudente van die (toe nog) Universiteitskollege van Wes-Kaapland (UWK), waar hy en Phoebe studente is, al van hom kennis geneem: Gert Gerwel. Stillerig. Slim. Nie ’n outjie met wie jy neuk nie. Binnekort sal nog net sy mense op die plaas in die Karoo-deel van die Oos-Kaap hom Gert noem. Hulle en sy vriend, Johan Murray, tot aan die einde van sy lewe.
Gert beweeg teen ’n betaamlike spoed in die rigting van die akademiese, politiese en intellektuele rolle wat hy as Jakes Johannes Gerwel sou beklee.
Sy kleredrag is onopgesmuk. Klere bedek ’n man se skaamte en beskerm jou teen die elemente – dis al. Terwyl hy in later jare ’n aka- demikus was, was dit selde nodig om uitgevat te wees. Solank jou klere skoon en heel is, is dit reg. Maar toe hy al hoe meer prominente aan- stellings kry in direksies van verskeie maatskappye en stigtings het Phoebe – met wie hy toe later wel getrou het – haar voet neergesit. Sy beskeie klerekas kort opgradering. So begin haar gewoonte om vir hom klere op sig huis toe te bring.
Dit het hom gepas dat sy die klerewinkelding doen. Maar op een voorwaarde, ononderhandelbaar: nooit iets wat aandag trek of spog- gerig probeer wees nie. Dit werk mooi uit: Phoebe is mal oor kuier in klerewinkels. Vir hom is shopping, hoe vinnig ook al, ’n marteling. Teenoor Jakes se praktiese en sobere houding oor klere, hou die meisie aan sy hand op Mowbray-stasie haar van kleindag af prinses – gee haar net ’n halwe kans. Sy paradeer graag in die hand-me-downs van haar drie ouer susters. Sy was nog nie op skool nie, toe is sy al op die verhoog by die kerk se verskeidenheidskonsert. Dis onder meer hoekom haar kop verhoog toe gestaan het. "Dit was nie ’n Kersspel nie, wát kan ek nie onthou nie, net dat ek agterna van die verhoog af onder my ma, wat reg voor gesit het, se vlerk ingekruip het. Terwyl die mense nog hande klap."
Solank een oomblik of een uur van ’n dag die moontlikheid van ’n hoofletter-okkasie inhou, is haar heelal hemels.
In die bus daardie aand terug Grassy Park toe gaan die meisie se tikkie lekkerruikgoed nie by Jakes-in-wording-Gert verby nie. (Hy weet natuurlik nie dis haar ma s’n nie. So min as wat hy weet jy tik dit net liggies op elke pols en agter elke oor and that’s it.) Vir sy eie susters en ma op die platteland is reukwater en sulke dinge luukshede.
Sy mense op die plaas kom in die algemeen met minder lewensmiddele oor die weg as Phoebe s’n in die stad. Eers toe hy en sy ’n slaapkamer as getroudes deel, lig die sluier van skoonheidsrites vir hom. Black Like Me straightener en gróót krullers is deel van sy vrou se hare-roetine. Eers die lotion. Dan draai jy jou hare in en steek die krullers styf teen jou kop vas met pennetjies. Wanneer dit goed droog is, borsel jy ’n glimmende bos reguit hare uit. Cover girl uitgeknip. Buiten dat ’n tydskrifvoorblad in Suid-Afrika, weens rasseklassifikasie, Phoebe nie maklik beskore sou wees nie.
"Ek was van altyd ’n meisie wat moeite gemaak het met my voor- koms. So’t ek van die eerste dag as student op UWK sykouse en lip- stiffie gedra."
Uitgeknip Phoebe. Toe sy klein was, het sy besluit sy sal eendag ’n filmster word of op die verhoog staan. Sy hou van sing, maar haar eintlike ding is dans. Haar ouer susters het van kleintyd af aan haar verduidelik as jy in die sestigs in die stad in die tel wou wees, jy moet kan bob, jive, rock en twist tot jou rok halfmane onder die arms blom. Anders sit en muf jy tussen die muurblommetjies. Jou nooiensvan sal dan nooit verander nie, buiten na Oujongnooi.
Maar geen kat se kans dat dit met die parmantige Phoebe Abrahams sou gebeur nie.
Uitasem haal die twee verliefdes die bus net-net. Hulle is skaars in by die voordeur van Two Gables toe sê ant Sarah dis tyd vir kooi kry, en wel te ruste. Nou moet die jongman sien kom klaar na sy blyplek terug oor die Skiereiland. Hy loseer in Bellville-Suid by die Lucasse in Lloyd- straat. Van sy broers wat voor hom op universiteit was, het ook hier gebly. Sy jonger suster, Hester, nou nog in matriek in die Oos-Kaap, trek vol- gende jaar hier in. Sy kom vir maatskaplik. Dieselfde as Phoebe.
Gepraat van Phoebe se ma, Sarah. Jakes se ma is toevallig ook Sarah. Albei moeders (en vaders) het hoë morele waardes en goeie maniere by hulle kinders ingeprent. "Die woorde ‘asseblief’ en ‘dankie’ was groot woorde in ons huis," onthou Hester. Dieselfde geld in Two Gables.
Phoebe en Jakes deel ook ’n lewendige sin vir humor. Voeg hierby dat beide hartstogtelik is oor hul moedertaal en veral Afrikaanse poësie, en dit lyk vanaf die begin af of hulle soos twee legkaartstukke pas.
Maar die verskille tussen Jakes en Phoebe is ook uit die staanspoor sigbaar. Phoebe is een van net vier susters. Jakes is een van tien sibbe: drie susters en sewe broers. Hy’t op ’n plaas grootgeword, sy is deur en deur ’n stadsjuffer. Jakes se pa is ’n plaaswerker, Phoebe s’n was ’n professioneel opgeleide onderwyser. "En Jakes se mense was eng, toe- gewyde Christene. My ma was wel ’n aktiewe kerksuster, maar my pa het nie kerk geloop nie."
En nog ’n ding: Dit was nie love at first sight nie. "Kyk, Jakes was eintlik ’n baie onaantreklike man. Maar hy het so maklik en lekker met Adam Small in die Filosofieklas gesels – dié dat ek hom opgemerk het. Jinne, waar kom dié man vandaan, hy’s so slim." (Phoebe was eerstejaar- filosofie, toe Jakes, reeds ’n ouer student, ook by daardie klas van Small aangesluit het.)
Sy onthou die dag op die Kaapse Parade toe sy Jakes se ouers die eerste keer in die Kaap ontmoet het: Sy pa het sy ma se handsak gedra. Dít kon sy nie kleinkry nie. ’n Handsak is tog ’n fashion item, nie ’n sak aartappels nie.
"Maar ek sê niks. Ek weet mos dis nou my toetslopie."
Voor dié uitstappie, maar ná die wintersaand op Mowbray-stasie, skryf Jakes vir Phoebe ’n gedig. Dit gaan oor "die triestigheid van so ’n reënerige Sondagaand in die Kaapse winter".
Dit eindig só:
". . . maar ons twee het mekaar die hand gegryp
die steilte van die duikweg
afgejaag en gelág."
Nie dat hul verhouding en latere huwelik net liefdesverse en handjieshou in die reën was nie. Die lewe is met niemand so vriendelik nie.
Phoebe se uncle Andrew gee haar een laat Saterdagmiddag as bruid voor die kansel in die NG Sendingkerk in Tweedelaan af. Dit is 22 Augus- tus 1970.
Hier belowe sy en Jakes om mekaar nooit te begewe en nooit te verlaat nie. Makliker gesê in jeugdige hartstog as wanneer onweer by die voordeur injaag. Sou dit nie vir Jakes makliker gewees het om die pad te vat nie? Veral in die tyd toe Phoebe se onvoorspelbare "moods" nog nie ’n naam gehad het nie.
Die lag het stilgeraak toe die eerste baba waarna hulle en hul onder- skeie families uitgesien het, stilgebore word. Terwyl Phoebe nog onder narkose ná die noodkeisersnee was, is die babadogtertjie weggeneem na waar ook al dooie babatjies destyds in Groote Schuur geneem is. Hulle het haar nooit gesien of vasgehou nie. Die tentakels van apartheids- wetgewing het bygekom tot daar waar ongeborenes nog lê en droom teen mamma se hartklop. ’n Stilgebore bruin of swart baba, of een met min kans op oorlewing, is tydens apartheid by bepaalde staatsinstansies geringer geag as ’n witte.
Hierna het ’n verlammende depressie Phoebe beetgepak. Dit het soos ’n derde party in haar en Jakes se huweliksbed kom lê. Handjies- hou in die reën? Sý? Hý? In jou drome . . .
Maar ondanks teleurstelling en teëspoed het Phoebe en Jakes nie met begrafnisgesigte gelewe nie. Hul huis was van die begin af, toe dit nog woonstel was, ’n gesellige kuierplek. Mense praat nou nog, dekades later, van Phoebe se "legendariese paarties".
Iets wat hulle ook van die begin af gedeel het, is humor. Grap en skerts was die gom in hul verhouding. Iemand vertel, ter illustrasie, van Phoebe se reaksie op ’n uitnodiging na ’n glansgeleentheid ná 1994, toe Jakes reeds ’n beduidende rol in die nuwe bedeling gespeel het. Die uitnodiging lui: tradisionele drag.
Tradisionéle drag?
Stel jou Phoebe hand in die heup voor. Haar keurig ingekleurde oë kamma verbaas gerek agter haar Bennie Boekwurm-bril. "So wat’s ek supposed om aan te trek? Slippers en cullers?"
Sy vra hom gereeld, wanneer hulle klaar aangetrek is om uit te gaan, of sy vir hom mooi lyk. "Natuurlik! Dis dan hoekom ek jou gevat het," sê hy dan. Sy is bewus van die professionele vroue met wie haar man buite die huis noodwendig in aanraking kom.
Hy was nie een wat gemaklik oor intieme, emosionele goed gepraat het nie. Om hom te probeer lees is so goed jy probeer woorde kry uit ’n geslote boek. Dis Jakes, sê Phoebe: Hou jou mond oor netelige dinge en gaan aan.
En tog was hy, net soos haar oorlede pa, ’n rots in haar lewe. Hieroor is geen twyfel nie. "Hy’t ook nooit gepanic nie. En nooit kwaad kom slaap ná ’n argument nie. Daarvoor was hy heeltemal te besig. Ek was maar altyd die dikbek een," erken sy.
So besig dat hy in 1980 professor in die Afrikaanse lettere en departementshoof by sy alma mater word. Dit was tot toe die hoogste akademiese vlak in die Afrikaanse lettere beklee deur ’n swart akade- mikus. Twee jaar hierna word hy dekaan van die Fakulteit Lettere.
Van 1987 tot 1994 is hy rektor en visekanselier van die UWK. Hy beklee dié amp ná sy mentor, Richard (Dick) van der Ross.
Van der Ross het ’n beduidende rol gespeel om die universiteitskollege in ’n volwaardige universiteit te omskep.
"Uncle Dickie het altyd eerste opgedaag by ons partytjies, alleen, en was altyd die laaste een om te loop. Hy was ’n baie gemoedelike mens," onthou Phoebe.
Die veelbesproke partytjies is elke jaar vroeg in Januarie gehou. Hiermee is Phoebe se verjaardag op 8 Januarie, en Jakes s’n tien dae later op 18 Januarie, met een okkasie gevier. Terselfdertyd was die jollifikasie die Gerwels se "happy new year" vir die baie familie, vriende en kollegas.
Met Suid-Afrika se oorgang na ’n demokrasie is dit vir niemand – behalwe Jakes self – ’n verrassing nie toe Nelson Mandela vir Jakes op ’n Vrydagmiddag in 1994 in die rektorskantoor bel en vra om te dien as direkteur-generaal in die presidensie en sekretaris van die eerste kabinet van die regering van nasionale eenheid. Teen dié tyd het hy al begin praat van uittree as rektor.
"Ek het altyd geweet hy gaan iets buitengewoons word, soos sê maar ’n skoolprinsipaal, maar dít? Nee," sê Phoebe.
En tog was sy eers nie in haar skik hiermee nie. Wat dan van die navorsing waarmee hy kwansuis wou aangaan? Dit was haar eerste vraag - slim - iets wat hóm, en nie haar nie, betrek. Terwyl sy baie goed weet die uitnodiging is ’n buitengewone eer: Een van die eerste aan- stellings wat Nelson Mandela ná 27 jaar in aanhouding gemaak het, was dié van Jakes.
Daardie Sondagaand in die reën op Mowbray-stasie in die laat sestigs (Jakes noem dit "die tyd toe ons nog gevry het") sou nie een van hulle kon raai Nelson Mandela sal eendag by hulle aan huis kom nie.
Jakes en Phoebe se ontmoeting, hofmakery en daaropvolgende huwelik vind plaas in die jare toe rasseskeiding op, onder andere, openbare vervoerstelsels afgedwing is. Apartheid vier hoogty. Met niks om te vier as jy nie wit is nie. Die vervoersegregasies, soos al die ander skeidings gegrond op velkleur, is ekonomies dom en onprakties, maar kalwer veral weg aan mense se trots en eiewaarde, wil hulle van hul menslikheid stroop. Maar moenie dit probeer teenstaan nie. Jy word net daar uitgekryt en uitgesmyt. Of agter tralies toegekap. Aan die stuur van die blanke-gekose regering is nou staatspresident Jim Fouché, en eerste minister John Vorster. (En wit mense se troetelnaampie vir hul minister van vervoer, Ben Schoeman, is Ben Wieletjies.)
Gelukkig is die hormone en drome van jong minnaars meermale sterker as politieke stelsels. Dis een van die redes waarom Jakes vir Phoebe op haar sestigste verjaardag nie aan aparte vervoerstelsels en nog erger herinner nie, maar aan hulle twee wat hardloop in die reën – en lág. Jakes is nie na dié viering genooi nie. Dis hoekom hy nie daar was nie. En nie omdat sy vir hom vies was nie, maar omdat sy net vroue daar wou hê.
As dié land so maklik rasse kon skei, hoekom nie sy op dié dag, háár dag, die ramme van die ooie nie?
Teen dié tyd is die Gerwels nie meer van busse, hikes en lifts afhanklik nie. Hulle is lankal uit die reën.
Anders as ek toe ek een oggend in Junie 2022 vir die eerste keer buite hul wit huis in Belhar stilhou. Van die straat af lyk dit nie veel anders as die ander middelklashuise van die omgewing nie. Dis ’n klipgooi van die UWK. Ruim, maar sonder vertoon. Rook dwarrel uit ’n skoorsteen.