Dieper as Drome
Dieper as Drome
Dieper as Drome

Die tuinhekkie piep-piep-klap. Hy hoor sy ma se voetstappe trap-op. Die voordeur gaan oop, slaan donderend toe. Die deurkosyn ratel, die klokkie aan die voordeur rinkel verward. Swaar dokwerkerstewels gee drie vinnige, twee stadige en dan weer vier vinnige, onvaste treë tot in die kombuis. Stilte. ’n Bord val klaterend aan skerwe. ’n Kastrol knal op die vloer neer, dawer eenkant toe, ’n stoel val om. Haastige treë trap-op tot in die slaapkamer.
Fyn stof sif deur die vloerplanke bo sy kop. Sy pa is weer goed driftig vanaand. Hoe lank sal dié bravade hou voor hy soos ’n stout kleuter in sy vrou se arms om vergifnis lê en snik?
“Hoe de bleddie hel is ek veronderstel om my kragte op te bou vir môre se werk sonder ’n bord warm kos?!” Ore toedruk help nie, die plankvloere en binnemure is te dun.
“Angus, jy werk nie môre nie, dis Saterdag. As jy nie hierdie tyd van die nag eers by die huis kom nie, sál daar vir jou iets warms wees om te eet. En dis ’n spesiale aand. Marcus het sy vyf jaar as vakleerling agter die rug. Hy is vas aangestel met ’n ordentlike salaris én ’n vet kontantbonus. En boonop is hy Glasgow se nuwe ligswaargewigbokskampioen.”
“Ek het net twee Guinnesse gehad! Kan ’n mens dan nie eens ’n lafenis saam met jou vriende geniet nie?”
“Hoeveel keer het ek nie al jou kos in die louoond gelos net om die stukkies houtskool soggens weg te gooi nie, Angus?”
Dan, soos ’n sweepslag, ’n gans ander toon: “As jy regtig honger is, gaan maak jou kos self warm!”
“Marcus het spesiaal lamsvleis gekoop vir jou gunstelinggereg sodat ons almal saam sy papiere, sy prestasies kan vier ...” Haar stem knyp toe, sy roggel gesmoord. Sy pa brul soos ’n wilde dier.
Hy ruk regop, smyt die boek eenkant, spring van die bed af, be-storm die trappe drie-drie op ’n slag en bars by hulle kamer in. Sy pa sit wydsbeen bo-oor sy ma, pluk haar soos ’n lappop aan ie keel op en neer, wurg haar. Sy kop is byna heeltemal tussen sy skouers ingetrek en ’n vreemde geloei stotter deur sy geklemde kake. Hy lyk soos ’n koplose Middeleeuse demoon.
Hy sien die groteske, flikkerende skadu’s teen die mure, staan versteen daarna en kyk. Sy ma se asemteue is hortend, raak dan yler, stop. Sy’s bloupers in die gesig. Die kersvlam dans vermenigvuldig in die geslypte fasette van die waterkaraf van Stuart-loodkristal langs die bed.
Hy gryp die karaf aan die slank nek en swaai wild: “Los haar!”
Sy arm ruk byna uit potjie. Met ’n knal skerf die karaf se bol en sy da se kop bars oop. Kristal-en-beensplinters, donkerrooi bloed, grys bry en gekoekte hare krul soos spookwurms in die ylgeel wasigheid van die kers. Die horlosie slaan twaalf beierende slae deur die huis; hamerslae op ’n aambeeld.
Die stukkende kop lig stadig van sy ma se borste af. Die oë soek rukkend rond, die mond trek skeef, probeer iets sê, stotter dit dan uit: “Sorry, me boy ...”
Sy nekspiere beur sidderend teen swaartekrag en vergetelheid. Sy skuldige hande krabbel slu van sy vrou se keel af weg en fladder soos neergevelde duiwe, die pad finaal byster. Lê stil.
Asof uiteindelik tevrede, syg sy da se gebroke kop teen sy ma se borste aan; sy linkeroog hang byna heel toe, sy regteroog, onsiende.
Hy krimp rukkend in die hoek anderkant die bed ineen. Alles het gestol, dis die koudste koue wat hy nóg beleef het. Hy hoor die flakkerende kers, soos veraf geweerskote agter die horison, en iewers ’n vioolsnaar wat strek, strek, breek. ’n Rouklag skeur die lug, diep êrens vanuit sy ma se oorgelewerde Noorse geheue.
Sy ma skuif moeisaam onder sy da uit, raak huiwerig aan die opgehewe merke aan haar keel. Haar ganse lyf ruk. Sy staan wankelrig op en begin, soos ’n slaapwandelaar, werktuiglik die ergste bloed en stukkies grysrooi bry in die waskom van haar afwas.
Hy druk sy kop nog dieper die hoek in, hy wil dit nie sien nie. Die aarde is van sy as af en tol steierend weg. Die heelal is uitmekaargeruk. Dit lê in splinters.
Sy neem die stuk karafnek saggies uit sy bewende hand. Hy voel dit nie. Skielik staan die twee kleintjies grootoog in die deur.
O, my god, ek wou hom net keer ...
Sy gaan staan vierkantig tussen hulle en die bed. “Julle da is baie siek. Die dokter is op pad. Toe-toe, bed toe met julle!” Gehoorsaam geskrik, string hulle uit.
Sy grawe onder haar onderklere in die laai, haal ’n bottel whiskey uit, ontkurk dit, kom kniel by hom en druk dit ferm teen sy lippe. “Sluk.”
Sy tande klapper teen die bottel se bek. “Ma ... Ma ... Ek wou ... Ek wou hom net keer... Hy...” Hy kan niks deur die tranewaas en stromende mukus sien of sluk nie.
Sy druk weer die bottel hardhandig teen sy mond en lig dit. “Sluk nou, Marcus.”
Hy snak na asem. Die whiskey stroom by sy mond in. ’n Mondvol glip in sy keel af en hy begin onbedaarlik hoes. Sy ingewande ruk saam.
Frances gryp die leë nagemmer en sit dit voor hom neer. “Braak nou.”
Die goorheid bars rukkend uit. Ná ’n ewigheid bedaar sy binneste genoeg dat hy sy kop effens kan lig om behoorlik asem te kry.
Sy ma druk die bottel weer teen sy lippe. “Nog twee groot slukke.” “Ma, ek ...”
Sy gee nie bes nie. “Drink nou.”
Hy maak sy oë toe en drink, sy kop – sy ganse liggaam – ’n blok ys. Ná die vierde teug neem sy die bottel weg. “So ja, dis nou genoeg.” Sy neem ’n waslap wat oor die bedstyl hang en sit die waskom met
skoon water uit die lampetbeker op die vloer langs hom neer. Sy kniel, begin sy gesig en hande saggies afseep met die byna deurskynende, amber blokkie Pears-seep wat sy langs haar bed hou. Hy ruik tiemie, roosmaryn, sederhout en lourierwater deur die suur van sy braak. Hy klou daaraan soos ’n drenkeling.
Hy staar soos ’n lewende dooie na die muur voor hom terwyl Frances haar verklaring aan Sersant Bryce Buchanan gee, die merke aan haar keel opgehewe en bloupers. Sy raak kort-kort huiwerig daaraan.
Hy wil nie hoor hoe sy hom verontskuldig en haar siel die ewige verdoemenis inwerp nie. Nie dat hy enige erg aan daardie onbekookte bygeloof meer het nie; sy het wel, en sy gáán lieg, vir hom; om hom te spaar. Sy doen dit sonder om twee maal daaroor na te dink, want hy is haar kind.
Ná die begrafnis, waarvan hy niks kan onthou nie, is hy vir drie dae lank stilstuipend dronk. Hy dool ongewas en ongeskeer in die huis rond. Sy ma rep nie ’n woord daaroor nie.
Hy kan nie meer nie – nie meer drink nie, en ook nie meer die gebeure oor en oor in sy kop laat afspeel, probeer dink of dit anders kon wees nie. Charles Dickens was reg én verkeerd! Dit is nié die beste van tye nie, maar beslis die slegste van tye.

SY LINKEROOGLID HANG REEDS

OUDERGEWOONTE HARDLOOP HY VOLUIT die laaste stywe bultjie uit en stop bo om asem te skep. Hulle buurt daar onder, die Gorbals, is reeds diep in ’n grou skaduwee gehul; die stad se ou naam, Glasgu, is juis “grys laagte”. Oorkant die rivier lê die rykmansbuurte en baai nog in die dag se laaste lig; die brûe is min, die skeiding wyd.
Hy behoort op die wolke te loop; sy vyf jaar as vakleerlingskeepsenjinbouer by J & G Thompson & Sons on Clyde is verby; ’n vaste aanstelling, ordentlike salaris en vet kontantbonus sy beloning. Ook is hy laas naweek as Glasgow se ligswaargewigbokskampioen gekroon. Maar, nee, hoe nader vandag gekom het, hoe meer het die ongedurigheid, die knop op die krop van sy maag begin toeneem.
Rivier-af lê ry op ry skeepswerwe en smelterye. Iemand by die werk het nou die dag gesê Glasgow s’n is die grootste ter wêreld. Die son flits vir ’n oomblik ougoud op die deels geroeste sinkdakke. Uit die smelterye se fornuis-skoorstene gloei die laaste pluime roet en as van die dag met ’n amber binnegloed. In dié lig is sy geboortestad vir hom amper mooi.
Doer in die breë, boomomsoomde lane van die rykmansbuurte sien hy die “lichties”, Glasgow se befaamde gasstraatlampe, een vir een aankom. Die lampaanstekers, die “leeries”, met hulle lang aansteekstokke is op hulle pos. Hy het hulle al van naby dopgehou, die sagte “ploef” soos die gas ontbrand, die lampe se warm gloed wat begin uitdy. Voor hom, in die sterk skemer van die laagte, flikker hier en daar ’n flou liggie in ’n klompie vensters aan.
Nommer 113 Bedford Lane, die buitepleister plek-plek so verkrummel dat die halfgebakte kleistene wys, is hulle s’n. Daar is twee kamers onder, twee kamers bo en ’n toilet op die buitetrap. Gelukkig is hulle op die hoek, met slegs aan die een kant bure wat die gerief moet deel. Was sy ma, as onderwyseres, nie die eintlike broodwinner nie, sou hulle in een of twee beknopte kamers heelwat laer af in die leegte moes sien kom klaar.
Dis waar húlle, sy ma, pa, die kleintjies Erin en klein Angus en hy, Marcus Moore bly – twee blokke bo Main Street. Byna reg oorkant is die nuwe openbare badhuis én net ’n raps meer as twee blokke weg, die Rob Roy Bar, sy pa se stamkroeg, verál op ’n Vrydag.
Die keistene voor die Rob Roy se oop deur en geruite erkervensters kaats bottergeel met die warm lig wat van binne af daarop skyn. Hy hou eers verby, besluit dan hy gaan tog ’n bier saam met sy pa drink. Dalk sorg hy só dat hy ten minste vanaand betyds is vir ete.
Dis Vrydag. Die Rob Roy is vol, meestal met dokwerkers. Hy eien dadelik Angus se kenmerkende Ierse kadens tussen die ander. Dié is oudergewoonte met ’n Guinness in die hand op sy plek langs die donkerhout-perdeskoentoonbank besig met ’n relaas, gerig aan die geduldige kroegbaas en wie ook al nóg wil luister.
“Dugald, verstaan jy dan nie? Agthonderd jaar gelede het Noormanne in Ierland rondgedwaal, besluit om die eiland vir hulle te vat. ’n Paar eeue later verdeel die Britte dit goedsmoeds in twee ...”
Dis sy ou-ou storie. Marcus huiwer, begin omdraai, Wat help dit tog?
Angus sien hom. “Marcus! Is daar fout?” Sy linkerooglid hang reeds. Ná die derde of vierde sopie wil dié ooglid hom glad nie meer gedra nie. Hy raak selfbewus daaraan.
Marcus draai terug, forseer ’n glimlag. “Nee, Da, alles is in die haak. Ek kom drink net ’n slag ’n bier saam met jou. Ek wou julle eintlik Oyster Bar toe genooi het vir vars oesters, maar Ma maak mos vanaand spesiaal haar Ierse bredie ... nogal met lamsvleis, preie én kluitjies!”
Hy besef hy maak die pap te dik aan.
Angus wis ook dadelik hoe die wind waai. “Ah, dis nou jammer oor die Oyster Bar, maar nou ja ...” Hy hou sy halfvol glas omhoog. “Dan kan jy nou ‘mos vanaand spesiaal ’ vir ons, na dié een, nog ’n ou Guinnessie bestel!”
Hy draai terug na die kroegbaas. “Derduisende families, Katoliek en Protestant, is sommer nou die dag nog van hulle plase afgeskop deur afwesige Engelse lords en lairds. En wat doen hulle? Hulle jaag die belasting hemelhoog op! Toe moes ons, met daardie einste belasting, die hongersnood self probeer omkeer. Dit is godsverloënende sotterny, sê ek jou!”
Marcus draai om en loop doelgerig deur toe. Het hy werklik gedink Ierse bredie sal die sjibbolet wees wat sy pa sal laat huis kry as hy nie eens kon opdaag toe hy sy kampioensgordel ontvang het nie?
Dieper die Gorbals in, waar die tweede blok begin, is dit al byna gitdonker. Die enigste bietjie lig val deur ’n oop venster of deur hier en daar. Die reuk van colcannon – aartappels en kool, die buurt se stapelvoedsel – hang in die lug.
Sy voet stamp kletterend teen ’n leë blik. Hy tel dit op en slinger dit met alle mag woerend die donker steeg in. ’n Ruit bars vorentoe iewers met ’n knal aan skerwe. ’n Stem vloek ten hemele, roep al die plae en pestilensies denkbaar op die booswig neer.
Hy bulder steeg-af: “Ek voel óók so!” Gaan hy waaragtig, soos sy pa, ook uiteindelik in ’n waas van Guinness tussen werk, kroeg en huis bly dool?
Hy probeer hard om die donderwolk oor sy gemoed effens te laat opklaar. By hulle piepende voorhekkie ruik hy al die gestoofde lamsvleis en preie op die stoof prut. Dit help.
Sy ma het die teegoed gereed. Sy maak eers die koppies warm, melk eerste en skink dan die tee, sien die frons op sy voorkop. “En nou?”
“Hy sit nog daar by die Rob Roy ... Ek wou ’n bier saam met hom drink ... “
Sy sit haar hand op syne. “Hy sal wel opdaag ...”
“Ai, my ma. Lyk my hy is nou nog kwaad oor hy nie destyds sy prokureurseksamens afgelê het nie? Dalk is hy ook kwaad oor ek nou wél ’n kwalifikasie het ...?”
“Ek dink hy is kwater oor hy ná al die jare steeds op die dokke werk ... en dat ék meer geld verdien. Ek dink hy’s die kwaadste vir God, oor alles en dít kan hy nooit sê of eens dink nie.”
Sy stryk oor haar voorskoot, draai haar trouring reg, die woorde kom moeilik. “Marcus, ek is ook maar ’n hardekop, dit weet jy. Daar was ’n tyd, jy was seker so drie of vier, dat ek hom die huweliksbed geweier het ... Dit was ’n fout, ek weet dit nou. Hy kon dít nooit kleinkry nie. Ek kon hom net sowel ontman het.”
Sy haal diep asem en gaan voort. “Later, toe ek hom weer innooi ... Dit was nie maklik nie ... Hy ... Ek wou dit laat werk juis omdat ek hom liefgehad, jammer gekry het. Toe die kleintjies gebore is, het hy hulle nooit vasgehou, soos met jou vroeër nie ...”
Sy vee haar oë met die voorskoot se punt af, kyk hom in die oë. “Glo my, Marcus, liefde óf jammerte is nié genoeg nie; verál nie jammerte nie. Hoe harder ek, op my manier, die familie probeer beskerm het, hoe verder het ek vir Angus weggedryf. Die kloof tussen geloof en die werklikheid is meestal veel wyer as wat ons wil weet. ... Wag, laat ek die kos begin klaarmaak, die kleintjies is seker al dood van die honger!”
“Ek gaan solank bietjie lees, Ma, my kop op iets anders probeer kry. Roep my, asseblief.” In sy kamer wurm hy hom teen sy kussing in en tel sy tydskrif op:

“ALL THE YEAR ROUND.” A weekly journal.

Conducted by Charles Dickens

Volume 3 – January 1860.

Hy blaai vlugtig daardeur. Sy oog vang die eerste aflewering van Charles Dickens se vervolgverhaal, “A Tale of Two Cities”. Hy gaan dit weer lees!
Hy kyk na sy klein boekery op die houtkis langs sy bed: ’n hele paar van Shakespeare, Karl Marx, Darwin, Cervantes se Don Quichot, Dickens, William Burchell se Travels in the Interior of Southern Africa en ’n klompie ander.
Was dit nie vir die Glasgowse uitgewer William Collins, wat boeke bekostigbaar begin maak het nie, sou hy almal in die stadsbiblioteek, wat nóóit laat genoeg na sy sin oopbly nie, moes gaan lees. Sy pa was glad nie gediend daarmee nie: “Tydmors, met allerhande satansdrek wat in jou kop geplant word!”
“Kos is op die tafel!”
Marcus laat hom nie twee keer nooi nie; daardie geur trek nou al hoe lank deur die huis. Die souskluitjies, deurdrenk met die luukse van vleis-en-preisous, smelt in sy mond. Erin en klein Angus se oë is groot, hulle monde blink; dis vir hulle net so ’n traktasie.
Omdat dit Vrydag is, word die kleintjies verskoon om ’n rukkie by die buurkinders te gaan speel. Ma en seun sit ’n wyle in stilte, Angus se afwesigheid doelbewus versweë.
“Ma weet mos van die fabelagtige diamantvondse in Suid-Afrika?”
“Ja, dit klink my dis die nuwe Eldorado! Almal en sy neef stroom soontoe om hulle fortuin te gaan soek. Daar gaan meer lewens en drome gebreek word, as wat die meeste van hulle gaan geld maak.”
“As ek die geld vir die passasie en ’n bietjie ekstra gehad het, sou ek my plek al bespreek het.”
“Jy wil baie graag wegkom, nè, my seun?”
“Dalk is dit hierdie eiland wat my benoud maak, Ma.”
“Al het jy nou jou kwalifikasie én ’n ordentlike verhoging gekry?”
“Miskien juis daarom, Ma. Die paadjie is te duidelik uitgestippel. Die geld is meer as welkom, maar dis ál asof dit die kettings versterk pleks van losser maak.”
“... Dalk is dit nie net hierdie eiland nie, dalk ook die boeke wat jy lees, wat wêrelde vir jou oopmaak waarvan baie mense net droom óf van wegskram. Die meeste mense hou niks van onsekerheid nie, dit maak hulle angstig en verward. Jy, Marcus, floreer daarop.”
Marcus glimlag. “Jy ken my te goed, my ma.”
Sy sit ’n oomblik, huiwer. Hy sien haar hand op die tafel ’n vuis maak, ontspan, weer vuis maak. “Of dalk is dit jou ...” Sy kom nie verder nie.
Hy sit sy hand saggies bo-op hare, gee dit ’n druk. “Dankie, Ma, die bredie was heerlik!”
Frances wil iets sê, bedink haar, sê dan: “Gaan lees lekker verder, ek gaan opwas en die kleintjies in die bed sit. Hopelik is jou pa se kos nie houtskool teen die tyd dat hy huis kry nie ...”
Die kers langs sy bed is halfpad. Die staanhorlosie in die gang slaan kwart-voor-twaalf; Westminster se wysie.
“It was the best of times, it was the worst of times, it was the age of wisdom, it was the age of foolishness, it was the epoch of belief, it was the epoch of incredulity ...”
Hy het die openingsreëls seker al twintig keer gelees en kom net nie verder nie. Dickens se woorde dwing sy gedagtes terug na die hier en nou. Hy laat sak die tydskrif tot op sy bors.
Uit die gang klink die eerste note van Beethoven se “Appassionata” gedemp op – sy ma speel op haar klavier! Van kleins af is hy daarmee aan die slaap gesus terwyl hulle vir sy da wag om huis toe te kom. Wanneer laas hét sy gespeel?
Die liriese eerste passasie gaan oor na die allegro assai-gedeelte. Sy slaan die klawers al hoe driftiger – stop abrup in die middel van ’n frase. Die klavier se deksel klap dawerend toe. Duidelik vermurf musiek nie meer haar wrewel soos tevore nie.
Die tuinhekkie piep-piep-klap ...

OP HOOP VAN SEËN EN DIE DIGGINGS
OP DIE VIERDE DAG, ’N SATERDAG, gaan bad en skeer hy by die badhuis skuins oorkant die straat. Hy wil wegkom uit die verdomde, verflenterde buurt. Hy neem al sy spaargeld en besluit om perdewedrenbaan toe te gaan. Hy’t nog nooit geld op perde gewed nie; hy wil net tussen ander mense wees, mense wat hy nie ken nie. Die naaste renbaan is op Hamilton, byna ’n uur se reis weg met die trein. Dis ver genoeg.
Op die trein is alles ’n waas: grou gesigte, grou huise al langs die spoorlyn, grou lug deur die roetvensters. By die renbaan gekom, hoor hy in die samedromming van mense voor die draaihek deel van ’n sin: “Eclipse eerste en die res nêrens.”
Op die wal langs die baan tussen die menigte ruik hy suur sweet; almal gebruik nog nie gereeld die openbare badhuise nie. In die losies hoër op sien hy die helder kleure van die ryk dames se hoede met serpe wat bo-oor die relings wapper en rooi, wit, geel, blou, pers en ligroos petunias en langstingelmalvas in blombakke. Die helder kleure maak sy oë seer. Die ongewastes is daar op hoop van seën; die rykes vir afleiding.
Met die finale wedren van die dag wed hy sy laaste twee pond en twee sjielings op ’n perd met die naam Eclipse. Die perd eindig toe inderdaad so ver voor die res dat hulle wél nêrens was nie.
Marcus stap nie dadelik na die boekie toe nie, sy bene dreig om onder hom mee te gee. Hoeveel het hy gewen, £15, £20?
“Daar’s hy, seunie! Negehonderd-en-drie pond en ses sjielings. Twintig jaar se geld, as jy mooi daarmee werk.” Die boekie tel die geld presies af, skuif dit in ’n groot manila-koevert in en hou dit na hom toe uit. Hy staar daarna met sy hande slap langs sy sye.
“Hier, dis joune. Alles wettig! Dis jou passasie na die New Rush in Suid-Afrika. Dis mos waarheen almal deesdae wil foeter. Moet dit net nie alles nóú teen ’n muur gaan staan en uitpie nie!”
Marcus kry die koevert met moeite gevou, druk dit in sy baadjie se binnesak. Sy hande bewe onbedaarlik, sy kop staan botstil. Toe hy hom kom kry, stap hy by die Rob Roy Bar in.
Hy bestel ’n pot sterk koffie; sy alkoholinname oor die laaste klompie dae was genoeg vir ’n jaar. Ná die derde koppie bewe sy hande steeds, maar die newelstorms in sy kop begin effens bedaar. ’n Aartssondaar soos hy het so pas ’n fortuin gewen. Wat is die sin dáárin?
Iets soos histerie borrel uit sy maag op. Skielik het hy ’n sê in sy toekoms, hy kan kies. Hy kán na die diggings toe gaan én ’n nuwe lewe te begin, soos die boekie gesê het. Mét sy pa se bloed aan sy hande ...
Toe hy by die huis instap, sien Frances dadelik iets het onherroeplik verander.
“En?”
“Ek het geld op die perde gewen.”
Haar keel trek toe. “Hoeveel?”
“Negehonderd-en-drie pond en ses sjielings, waarvan ek ’n trippens op ’n pot koffie spandeer het.”
Sy kyk lank stip na hom. ’n Klein, treurige glimlaggie vorm in haar oë, toe ook bewerig om haar mond. “Nou ja, dan beter jy ordentlike klere gaan koop vir jou reis én vir die diggings. Die New Rush wag.”

ISBN: 9780639779546
Prys: R350
Publikasie datum: Augustus 2023
Uitgewer: Boekdiva Uitgewers
Formaat: Sagteband 230mm x 152mm
Bladsye: 240