Heimwee
Heimwee
Heimwee

Een
Pretoria, Vrydagmiddag
Mart-Mari druk op die rooi telefoontjie op die skerm om die oproep te beëindig, en sit dan lank doodstil terwyl sy na die instrument in haar hand staar. Asof sy daar ’n antwoord op haar dilemma gaan kry. Asof ’n stem uit die donkerte gaan opklink en haar uit haar penarie gaan red.
Dit gaan nie gebeur nie. Haar kanse op ’n wonderwerk was nog altyd nul, dit weet sy ná agt en dertig jaar op hierdie aarde maar te goed, en die foon bly onversetlik pikswart en morsdood. Baie soos haar gemoed op die oomblik.
Wat sou sy gedoen het om die kosmos so venynig teenoor haar te maak? Dis behoorlik asof daar een of ander satan in ’n stowwerige staatskantoor met sy voete op die lessenaar sit en ’n lys ellendes op ’n knyperbord afmerk waarmee hy haar lewe verder kan versuur. Asof dit nie al suur genoeg is nie.
’n Begrafnis, enige begrafnis, is al klaar ’n beproewing. ’n Begrafnis saam met die Louws is die soort ding waarvan nagmerries gemaak word – dit knak jou psigies en leef vir dekades nog in jou onguurste herinneringe voort.
Ander families troos mekaar. Woorde soos “onderskraging” en “medelye” is deel van ander families se rouproses.
Nie die Louws nie. Hulle vrek oor die dood, want dis ’n geleentheid om elke wrok en grief wat hulle oor dekades opgebou het weer te gaan opdiep en tot lewe te roep. Die eenvoudigste reëling word ’n toutrekkery, elke samekoms is ’n drama. Hulle kan ’n gewolt maak uit wie watter slaai in watter oumagrootjie se slaaibak vir ’n gewone Sondagmiddagete saamgebring het, of watter kleinkind nou eintlik op ’n oorle voorvader se stukkende sakhorlosie geregtig is. ’n Begrafnis, wat aan elkeen boonop ’n lisensie gee om so onredelik moontlik te wees, is ’n geskenk van die gode.
Nie dat hulle openlik is oor hulle nyd nie. Die Louws was in hulle lewe nog nooit openlik oor enigiets nie. Nee, hulle is meesters van suggestie en innuendo, en elke sin wat hulle tot ’n gesprek bydra, is soos ’n ui: Daar is altyd nog ’n laag, en met elke laag wat jy aftrek, traan jou oë van voor af.
O jimmel, en boekhou van die kwaad, daaroor kan die duiwel by hulle lesse neem. Die Louws troetel hulle griewe soos wat ander mense babahondjies troetel: met die vurige hoop dat dit vir ewig sal voortleef. Boweal beteken ’n familiebegrafnis ’n hele week terug op haar geboortedorp, ’n gehug van ’n plek iewers tussen Gat en Nêrens in KZN se hinterland, met die hele, uitgebreide Louw-clan van die môre tot die aand op haar snare, sonder die reg of vermoë om ’n paar van hulle stilletjies te vermoor en in Heimwee se lusernland te loop begrawe.
Die stryd om met hulle oor die weg te kom, het sy lankal verloor. Van kleins af was dit so – sy was altyd die een wat op die rand van alles gestaan het en gewens het die aarde sluk haar in as hulle so raak, en wat weggehol het om in die kloof te gaan wegkruip as dit na haar kant toe gekom het.
Dis een van die twee hoofredes waarom sy medies gaan studeer het: Dit is ’n omgewing waarin daar van haar vereis word om klinies en saaklik te bly. Die ander rede was dat dit die grêndste graad was waarvan haar ma geweet het.
In haar beroep kon sy gedy. Die afgelope twintig jaar al is dit haar mantra: Tree terug, maak jou los van emosie, neem waar, besluit klinies. As dokter, veral in ’n pediatriese omgewing, kan sy nie bekostig om betrokke te raak nie. Dis die ouers se werk om te ondersteun, dis haar werk om saaklik en professioneel te bly sodat sy in die belang van die pasiënt kan optree.
Hoe op aarde gaan sy ’n hele week saam met hulle oorleef? Hoe op aarde gaan sy hierdie spesifieke week oorleef, die week waarin sy en haar sibbe van Louisa Louw moet afskeid neem, en vir die eerste keer in hulle lewe oor die weg moet kom sonder dat haar ma daar is om die brose verhouding tussen haar kinders met haar ysere wil te beheer?
’n Oomblik lank wens sy sy het die soort persoonlikheid gehad wat dit vir haar moontlik sou maak om haar kop op haar voorarms neer te lê en te huil, of om aan die vloek te raak, hard en onbeheers, oor die foltering wat vir haar voorlê.
Maar agt en dertig jaar se rigiede selfbeheer, en die feit dat daar ’n wagkamer vol pasiënte sit, almal onder die ouderdom van tien, maak so ’n onbeteuelde uitdrukking van wat in haar gemoed aangaan onmoontlik. Al wat sy kan doen, is om haar neusbrug tussen haar duim en voorvinger vas te knyp en te hoop die klein ongemak verplaas die grote.
“Prof?”
Sy onderdruk ’n sug en kyk op. “Ja, Desirée?” Die vrou huiwer ’n oomblik op die drumpel, lêer in die hand. “Is als orraait, Prof?”
“Ja dankie, alles is reg. Dis maar net ’n reëling wat skeefgeloop het.”
Sy sien hoe die donker oë versag, en sy omgord metafories haar lendene.
Ná amper tien jaar saam in die praktyk, ken Desirée haar beter as enigeen. En waar die ander personeel die skanse respekteer wat die formidabele en gereserveerde professor Louw om haarself opgerig het, steur Desirée haar nie veel aan skanse nie. Sy storm sommer alles onderstebo. En in die proses het sy die enigste persoon geword wat soms ’n glimp kry van wat in ’n baie streng bewaakte hart omgaan.
“Ai, Prof, met die begrafnis saam? Dit kan seker nie maklik wees om alles te reël van so ver af nie. Hoekom het Prof nie sommer vanoggend al gery nie? Dokter Cassimjee het mos gesê hy sal kom uithelp vir so lank as wat Prof nodig het.”
“Ek weet, ja.” Sy wil weer sug. Dis nie iets wat sy behoort te bespreek nie, veral nie met Desirée nie, maar in hierdie weerlose oomblikke glip haar beheer. “Dis nie die reëlings met die begrafnis wat skeefgeloop het nie. My suster reël dit, en sy is vreeslik bekwaam. Buitendien, daar is een kerk, een predikant en een begrafnisondernemer op die dorp, en ’n leërskare tantes wat gaan regstaan met genoeg toebroodjies en tee vir die hele distrik. Begrafnisse op Humansburg reël hulleself.”
“Nou wat is dan die moeilikheid? Iets met die praktyk? Kon ek gehelp het?”
“Nee. Tensy jy vir my ’n boyfriend kan reël voor môreoggend,” hol haar mond met haar weg. “Hoe nou? Ek dog dan dokter Van Heerden het daai gesogte status.”
Weer haar neusbrug. “Ek weet nie van gesog nie. En nee, hy’s nie my boyfriend nie, hy’s net … ’n metgesel.”
“’n Metgesel? Wat vir ’n ding is dit?”
“Geselskap. Iemand om saam te neem na ’n geleentheid.”
“En huis toe te neem agterna? Klink vir my na ’n friend with benefits.”
“Tsk! Ons is net albei besig, en nie een van ons het tyd vir ’n verhouding met al die verwagtings en verpligtings nie. Maar ek het wel gedink hy sal … Nietemin, hy’s besig. Hy kan nie nou wegkom nie.” “Hy’s besig.” Dis nie moontlik om die sarkasme in Desirée se stem mis te hoor nie. Dit drup uit elke woord soos suur uit ’n vrot battery.
“Ja, hy het ’n paar groot operasies wat voorlê.”
Desirée snork minagtend. “Hy doen boob jobs en tummy tucks vir ’n lewe. Ek het nog nooit in my lewe gehoor van ’n vroumens wat binne ’n week gedood het omdat haar tiete te klein is of omdat haar hol uit haar pantie klim nie. Hy kan mos maar sy celebritypasiënte vir ’n week opsy skuif om sy girl te support. Veral ’n classy girl soos Prof.”
Sy behoort die vrou te keer, sy weet dit. Sy moet hierdie gesprek beëindig, hier en nou. Theuns werk in hierdie einste hospitaal, en protokol vereis respek teenoor die senior personeel. Maar in hierdie oomblikke van rou en onbewaakte wrokkigheid is Desirée se onverdunde lojaliteit soos balsem op haar gemoed.
Buitendien is dit presies hoe sy voel oor Theuns se weiering om saam met haar te gaan. Dis nie dat sy van hom verwag het om die hele week saam met haar op Humansburg deur te bring nie – sy kan net dink hoe Theuns gaan lyk ná ’n dag in die Louws se geselskap, laat staan nog ’n week – maar sy het gedink hy sal darem bereid wees om vir die roudiens deur te kom, al is dit dan nou net uit erkentlikheid vir haar heelhartige deelname aan seks wanneer hy dit ook al wil hê.
Maar nee, hy’s te besig. Met boob jobs en tummy tucks, soos Desirée sê. En ná hulle gesprek van so pas, is die ooreenkoms tussen hulle in elk geval in sy kanon, al is dit nie openlik gesê nie. Sy weet hoe voel Theuns oor enigeen wat hom by enigiets emosioneels probeer betrek. Haar versoek dat hy moet saamgaan na ’n familiebegrafnis toe, was ’n blatante oorskryding van sy grense.
“Maar hoekom het Prof dan ’n date nodig vir ’n begrafnis? Ek dog dis ’n family affair.”
“Presies. Dis ’n familiegedoente. Die hele, grote, donnerse familie.”
“Haai, nou hoe klink Prof nou so oor Prof se naaste en beste? Dis mos bloed, en bloed kruip waar hy nie kan loop nie, sê hulle mos altyd.”
’n Oomblik lank moet sy haar oë sluit. “Ja, dis hoe bloed normaalweg werk, maar niks aan my familie is normaal nie.”
“Wel, ek weet nog steeds nie hoekom Prof dink Prof het ’n man nodig om vir die mense by die huis te loop wys nie, hulle kan mos sien Prof is ’n professional wat nie tyd het vir ’n man se kak nie. Maar as Prof regtig iemand wil saamvat, kan Prof altyd Tinder probeer. Sally – Prof ken mos vir Sally by Ontvangs? – sy’t vir haar ’n boyfriend op Tinder gekry, en uit haar gepraat kan hy ’n hele nag gaan sonder …”
“Genugtig, Desirée!”
“Ja, sorrie, ek het nou nie gedink dis Prof se styl nie, maar Prof het so half desperate geklink.”
Sy waai haar hand. Ja, sy is desperaat, en dis boonop haar eie skuld. Sy het geweet sy speel met vuur toe sy haar susters laat verstaan het daar is iemand in haar lewe, maar sy was so moeg vir hulle geneul en gesanik dat die wit leuentjie op daardie oomblik heeltemal geregverdig gevoel het. Sy het net nie gedink dit gaan haar so vinnig en so sekuur in die gat hap nie.
“Dankie, Desirée, ek mag desperaat wees, maar ek is nou lank nog nie mal nie. Vir al wat ek weet, tel ek vir my daar ’n reeksmoordenaar op. Of nog erger, iemand met ’n poniestert en tatoeëermerke wat in ’n kroeg sing vir ’n lewe.”
“Like Prof nie van goeie musiek nie?” terg Desirée. “As Bach dit nie geskryf het nie, is dit nie goeie musiek nie.”
“Dalk surprise die man Prof nog en speel hy al daai heavy-duty kerkmusiek waarvan Prof so baie hou. Dink net, dit kan ’n match made in heaven wees, en as Prof weer sien, dan staan Prof voor die kansel met die man.”
Sy trek haar rug reguit en steek haar hand uit vir die lêer wat Desirée teen haar bors vasgevou het. Tyd om hierdie lawwe gesprek te beëindig. “’n Huwelik is ’n kontrak, ’n ooreenkoms tussen mense wat dink hulle kan seksuele aantrekkingskrag met ’n dokument laat hou. Dis ’n ding wat in ’n prokureur se kantoor gemaak word, bitter ver van die hemel af.”
“Vir wat is Prof so cynical? Hoeveel keer het Prof nou al getrou?”
“Ek hoef nie te trou om te weet dis nie maanskyn en rose nie. Of om te weet die match made in heaven eindig gewoonlik in die hel nie.”
Desirée oorhandig die lêer, maar skud haar vinger vir haar. “Prof weet die universe luister na wat ’n mens sommer so ydellik kwytraak, nè? En die universe se revenge is altyd baie meer on point as enigiets wat ’n mens kan uitdink. Stadig met al daai wysheid oor trou.”
Mart slaan die lêer oop en kyk doelbewus weg van die vrou wat haar beterweterig staan en aankyk. “Die Ndlovu’s wag seker al ’n rukkie. Laat hulle maar inkom.”
Desirée knik. “Ja, orraait, ek weet wanneer ek gedismiss word. Maar my ma het altyd gesê ’n mens moet maar jou woorde tel, want as die blinde sambok die dag klap, moer hy vir jou half dood. Prof gaan nog so praat, dan lê Prof, kyk maar.”

Toe sy in haar straat indraai, verstadig sy haar pas sodat sy net tot verhaal kan kom. Gewoonlik oefen sy in die gimnasium, soggens vroeg voor sy met haar rondtes begin, of sommer so tussen pasiënte deur as sy ’n opening het. Maar vanmiddag het haar lyf die harde werk nodig gehad, die reëlmatige geklap van haar skoensole teen die teerpad, die laatmiddagson op haar skouers, die branding in haar bors wat die branding in haar gemoed kon uitdoof.
Eintlik het sy dit die nodigste gehad om nie te dink nie. Om nie oor die agt en veertig uur wat verby is te tob nie, en om nie oor die week wat voorlê te wroeg nie.
Ja, haar en Theuns se verhouding was meer ’n ooreenkoms as ’n verbintenis, maar dit was wel betekenisvol. Hy was ’n lyf waaraan sy kon vashou in die donker, maar meer nog, iemand wat sy aan haar sy kon hê wanneer die samelewing van haar verwag het om iemand aan haar sy te hê.
As daar nou ooit ’n tyd was waarin sy iemand aan haar sy nodig gehad het, is dit die komende week. Sy was eerlik toe sy vir Desirée gesê het sy glo nie in al die romantiese twak wat mense gewoonlik oor die huwelik verkondig nie, maar om nou te moet huis toe gaan en haar susters aan te durf sonder die boyfriend waaroor sy nou al maande lank lieg, het haar maag skoon seer.
Sy het die man in die eerste plek vir haar susters opgedis omdat sy nie met hulle simpatie kon saamleef nie. Simpatie op sy eie sou al erg genoeg gewees het, maar sy ken haar susters: Dis simpatie wat lyk na meelewing, maar die dun lagie medemenslikheid op die oppervlak verdoesel eintlik ’n oseaan se leedvermaak.
In die Louw-gesin, en op Humansburg, geld nie een van haar kwalifikasies of prestasies mos nie, want die een ding wat van haar ’n sukses moet maak, het sy nog nie reggekry nie: Sy het nog nie ’n man aangekeer nie. In die oë van haar susters en die dorp van haar herkoms is ’n vrou sonder ’n man – ’n gevestigde een in een of ander geformaliseerde hoedanigheid – mos net ’n halwe wese wat in ’n soort tydelike hel rondhang totdat haar “ander helfte” opdaag om van haar ’n volledige, vervulde mens te maak.
Vir haar susters was dit nog altyd die een ding waarmee hulle haar een voor was: Sy was geleerd, maar hulle was getroud. ’n Boyfriend, al was dit nou ’n gefabriseerde een, het die speelveld gelyk gemaak. Wel, so op ’n plan.
In haar oprit gaan sy staan, hande op die knieë, terwyl sy haar asem probeer terugkry. Voor haar maak die sweet donker kolle op die bakstene, in haar ore is daar net haar eie gehyg en die afgemete ritme van Vivaldi se mandolienkonsert. Hopelik het die oefening gehelp. Die berg voor haar is nie ’n sentimeter kleiner nie, maar sy is so moeg dat sy haar eenvoudig nie verder daaroor kan verkwel nie. Hopelik is sy moeg genoeg dat sy vanaand sal kan slaap.
Dis dan maar wat sy op Humansburg ook sal moet doen. Sy sal moet gaan draf tot sy eenvoudig te moeg is om te reageer op enigiets wat Sanna of Louise kwytraak. Vir wat Amalien alles doen en sê, sal sy dalk Vryheid toe en terug moet hardloop, maar dan is dit nou maar ook so. Amalien is per slot van rekening haar skoonsuster, en so graag as wat sy soms wil, kan sy die vroumens nie met ’n plank slaan tot Amalien elke opinie wat sy oor elke ding onder die son het vir haarself hou nie. Haar broer is mal oor sy vrou.
Buitendien, dis ’n week. Sewe dae. Honderd agt en sestig uur. Daarna kan sy sê haar werk kan nie langer wag nie, en kan sy terug Gauteng toe vlug.
“Hei, is jy oukei?”
Dit neem haar ’n paar oomblikke om te registreer dat sy die een is met wie daar gepraat word. Maar ja, daar word met haar gepraat, want in haar sigveld het ’n paar verslete skoenpunte verskyn. Werkstewels, bekoek van die sand en modder, met stofbruin sokkies wat slapperig oor die boonste rand hang.
Stadig kom sy orent, en net so stadig laat sy haar blik boontoe skuif. Gespierde kuite, flenterige kakiebroek wat gevaarlik laag op die lenige heupe hang, midderif so plat en knobbelrig soos ’n wasplank, neutbruin borskas, breë skouers. Tatoeëermerk wat kleurryk om die een skouerknop vou en oor die biseps afkrul. Baard wat effe woes om die kaak uitstaan. Donker hare wat in ’n poniestert agter sy kop vasgemaak is. Mooi neus. Soel mond. Lewendige bruin blik.
En in die dieptes van die bruin, onteenseglik en onweerlegbaar, ’n helder, onbeskroomde hitte wat vonk en vlam, en dreig om die hele middag in ’n kruitvat te omskep.
Dis soos ’n fluweelvuis in haar maag, daardie blik. So sterk is dit, en so onverwags, dat sy na haar asem wil snak en agteruit wil steier. As sy minder beheer gehad het oor wat sy vir die wêreld wys, het sy. Soos wat dit is, kan sy net daar staan en hyg, terwyl die bewustheid deur haar are skroei.
Wat is dit met haar? Dis nie hoe dinge veronderstel is om te werk nie, nie vir haar nie.
Sy is nie die soort vrou wat hitte in ’n man se oë laat vlam nie. Louise, met haar blonde krulle en haar perdebylyfie is, en selfs Sanna in haar jong dae, voor kinders en ’n verdraagsame eggenoot blykbaar haar die behoefte ontneem het om aandag aan haar voorkoms te bestee.
Hitte was nooit vir haar beskore nie. Sy was van jongs af te donker, te lank, te platborstig en te gedrewe om sulke soort aandag te kry.
Sy is ook nie die tipe wat reageer op hitte nie. Sy reageer op intellek, op agtergrond en afronding, op styl en klas en hoflikheid. Sy reageer nie op spiere en testosteroon en tatoeëermerke en monde wat lyk asof hulle ’n vrou van haar voete af sal kan soen nie.
Mart-Mari, kry net beheer! Jy is ’n volwasse vrou, geleerd en bestendig, nie ’n bakvissie wat kortasem raak net omdat ’n man vir jou kyk nie. En dit maak nie saak hoe warm sy oë is nie, dit verander nie wie jy is nie.
Vinnig gee sy ’n tree agteruit. “Wat maak jy in my erf?”
Hy hou dadelik sy hande omhoog. Die palms is eelte gewerk. “Jammer, ek het nie bedoel om jou te laat skrik nie, maar Nettie het jou hier sien staan en bekommerd geword.”
Sy kyk oor sy skouer in die rigting van die buurhuis waarheen hy met ’n kopknik beduie het. ’n Kind staan op die stoep, net so besmeer as hy, maar met ’n vrolike oranje sonhoed op haar kop.
Dis die eerste keer dat sy ’n kind by hom sien. Hy is al amper drie maande aan die werk aan die buurhuis, en sy het nog nooit iemand by hom gewaar nie.
Hy het hard gewerk, en heeltemal op sy eie, selfs toe dit pikswaai gekos het om die slordige heining tussen hulle eiendomme uitgekap te kry, en sy het haarself ’n keer of twee betrap dat sy bewus geword het van die mooi lyf, van die spiere wat onder die vel dein, van die ferm agterstewe, van die hande wat so fyn vat as hy met die klein plantjies werk. Maar sy het elke keer weggedraai, effe ongeduldig met haarself dat sy op ’n fisieke vlak van ’n man bewus is terwyl sy baie goed weet dat intellek al is waartoe sy aangetrokke is. Nie dat die verskille hom gepla het nie. Elke keer wat sy in haar oprit stilgehou het, het hy geglimlag en gewuif, asof hy bly was om haar by die huis te sien aankom. Sy het elke keer net met een van haar bevrore glimlagte gereageer. Die tweede laaste ding wat sy in hierdie lewe gaan doen, is om met die bure te ginnegaap. Die laaste ding is om met die bure se nutsman- tuinwerker te ginnegaap.
Dat die nutsman-tuinwerker so ewe in haar oprit kom staan en haar oor haar welstand konfronteer, is heeltemal te dik vir ’n daalder. Wat het van privaatheid geword?
En dis nou ook nie nodig vir hom om te maak asof sy op die rand van die dood is net omdat sy so ’n bietjie uitasem is nie. Ja, sy weet sy lyk seker sleg, maar sy staan darem nog op haar eie voete.
“Ek is oukei, dankie, net nie meer gewoond daaraan om so ver te draf nie.”
Sy sien hoe sy blik oor haar lyf gly. “Mmm. Jy lyk na die tipe wat gewoonlik in ’n gimnasium oefen. Padwerk is anders, dit vat aan jou gewrigte. En jou vel. Jy sal maar moet smeer vanaand, dit lyk asof die son jou geklits het.”
Te naby. Heeltemal te naby. Hy’s in haar ruimte, in haar kop, in haar sake. “Dankie, ek behoort te oorleef,” snerp sy. “Ek het darem tot dusver goed op my eie reggekom.”
“Hei, ek het nie bedoel …”
“Goeiedag,” knip sy hom kort, voor sy op haar hak omdraai en wegstap huis se kant toe.
Op haar voorstoep kom sy tot stilstand. Met die heining weg, kan sy steeds die kind op die stoep langsaan sien staan. So vyf, skat sy, met dieselfde ligbruin hare as die man in haar oprit. Die gesiggie is weggesteek onder die hoed sodat dit moeilik is om die gelaatstrekke te sien, maar wat sou sy op die stoep maak as sy nie familie is nie? Moontlik sy dogter?
Die meisietjie beweeg nie, waai nie, staan net daar met haar arm om een van die stoeppilare geslaan, een voetsool op die ander voet se brug. Wat dit is aan die kind se houding wat haar laat vassteek, weet sy nie, maar daar is iets aan die lyfie, ’n soort weerlose spanning, wat haar op die drumpel hou. Sy werk nou ook al lank genoeg met kinders om te weet daar is iets aan die gang hier.
Sy wil wegdraai en haar in haar huis gaan verskans. Wil nie by hierdie mense betrokke raak nie. Wil veral nie by die kind se kwessies betrokke raak nie. Maar sy is wie sy is, en sy stap weer die trappies af tot by die buurhuis se stoep. “Hallo. Ek hoor jy is bekommerd oor my. Dankie, ek waardeer dit, maar ek was net ’n bietjie winduit nadat ek gedraf het. Ek voel nou weer beter.”
Terwyl sy gepraat het, het die man nader gekom en sy hand op die kind se kop kom lê.
Dit val haar dadelik op, die instinktiewe beskerming. Dit herken sy ook, sy sien dit daagliks in haar spreekkamer wanneer ouers hulle kinders met hulle hele wese teen slegte nuus wil beskerm.
Sy glimlag, maar reik nie uit na die kind nie. “My naam is Mart-Mari. Ek hoor joune is Nettie.”
Die meisietjie kyk haar lank aan, asof sy haar takseer. Dan skuif die blik na haar erf toe. “Jou tuin is lelik.”
Sy sien hoe die man sy mond oopmaak om tussenbeide te tree, maar sy hou hom met ’n ligte handgebaar stil. “Ek weet, ek is ’n vrot tuinier. Iemand anders sny vir my my gras, anders was dit ook lank en slordig.”
“My pappa maak mooi tuin.”
Sy het dan die situasie reg gelees. “Ja, dis ’n pragtige tuin wat hy hier gemaak het.”
“Hy kan jou tuin ook mooi maak as jy wil.”
Intens bewus van die man se blik op haar, glimlag sy weer vir die kind. “Ek het nie eintlik tyd om ’n tuin op te pas nie, ek is die hele dag by die werk. Dis hoekom ek net ’n boom en ’n grasperk het. Hulle groei eintlik maar op hulle eie.”
“Watse werk doen jy?”
“Ek is ’n dokter.”
“Steek jy mense met naalde?”
Sy kan nie help om te grinnik nie. “Ek probeer om dit nie te doen nie, ek probeer altyd eers om ’n ander manier te kry om die siekte te laat weggaan.”
“Mart-Mari is eintlik ’n pediater,” hoor sy die pa sê. “Jy onthou mos wat dit is, dieselfde soort dokter waarnatoe jy altyd gaan. Maar Mart-Mari is baie slim, sy werk ook by die universiteit waar sy ander mense leer hoe om dokters te wees.”
Dit laat haar wenkbroue opwip. Hoe weet hy soveel van haar?
“Geslote gemeenskap,” antwoord hy haar bo-oor die kind se kop. “Baie vroue het tee en inligting aangedra sonder dat ek daarvoor gevra het.”
Dit kan sy goed glo. Sy is doodseker sy is nie die enigste vrou wat die deinende spiere en ferm sitvlak raakgesien het nie, en hier is ’n hele paar bedorwe tuisblyma’s in die veiligheidslandgoed wat maar te gretig tee en koekies, van alle soorte, sal aandra.
Sy wil net die gesprek beëindig, toe die kind beduie na ’n duur Mercedes wat agter die bakkie in die oprit tot stilstand gekom het. Teen die blink sofistikasie van die donker motor lyk die bakkie nog meer gehawend.
Die vrou wat uitklim, is reeds middeljarig, maar lank en skraal en besonder goed versorg. Haar voorkoms skree geld en klas, van die snyerspakkie tot by die ontwerpersjuwele, en die paar duiselingwekkende hakke is beslis nie in hierdie land gekoop nie. Ten spyte van haar versorgde voorkoms, wuif die vrou entoesiasties vir die twee op die stoep.
Tien teen een die nuwe eienaar van die huis, besluit Mart. Goeie verhouding wat sy het met haar nutsman en dié se kind.
Toe die vrou in haar rigting kyk, retireer sy onmiddellik. “Ek moet gaan,” sê sy vir die man wat steeds op die stoep staan, hande in die sye. “Jammer dat ek Nettie laat skrik het. En dankie vir die besorgdheid.”
Hy maak sy mond oop om iets te sê, maar sy wil nie hoor wat dit is nie. As hy haar daar hou, gaan sy met die vrou moet praat, en netnou sit sy met bure wat haar oornooi vir kuiers. Die vrou lyk hoeka na die tipe wat funksies hou waarby die hele Pretoria se elite sal opdaag.
Met haastige treë stap sy weg, en met ’n laaste wuif in die rigting van die drie wat nou saam op die stoep staan en haar agternakyk, is sy in haar huis, verskans teen enige soort kontak.

Mart vou haar vingers om haar neusbrug en druk. Hard. Maar dit help nie, die stroom klank bruis onverpoosd voort.
“Ek het twintig dosyn worsrolletjies bestel, ek hoop maar dis genoeg. Daar is darem wasgoedbondeltjies en kaaspoffers ook, en Louise het gesê sy sal frikkadelletjies maak. Die gemeentesusters maak toebroodjies, maar jy weet hoe is mans, hulle soek mos altyd ’n vleiserigheid. Ek het vir ta’ Mollie van Vuuren gevra om hertzoggies te maak, maar toe sê Amalien ’n mens moet eintlik nie soetgoed hê nie, oumense se bloedsuiker val te vinnig en dan kap hulle sommer om. Toe kanselleer ek die hertzoggies, maar toe’s ta’ Mollie so teleurgesteld dat ek sê sy kan maar koeksisters in die plek van die hertzoggies maak. Ek moes eintlik vir haar gesê het sy moet net skons maak, maar haar skons is nie so lekker soos ant Gerty s’n nie, ek sal die skons liewer by haar bestel.”
“Sanna …”
“Amalien het gesê ons moet liewer vrugte voorsit, aarbeie en kiwivrugte en pynappel en so aan op stokkies, maar dis al amper Mei, en ek weet nie waar kry ’n mens hierdie tyd van die jaar in hierdie wêreld aarbeie nie. Hier is nog baie papajas en mango’s, maar dis te pap om dit op ’n stokkie te ryg, en jy weet hoe vlek mango as dit op jou klere kom.”
“Sanna!” probeer sy weer haar suster se woordevloed stuit. Tevergeefs.
“Dink jy ’n mens moet maar liewer kos voorsit? Hoenderpastei en rys, of bobotie of so?”
“Dis regtig nie nodig nie, dis ’n begrafnisdiens, nie ’n onthaal nie,” kry sy uiteindelik ’n woord in.
“Elfuur is net so ’n onmoontlike tyd. Dis nog nie middagete nie, maar mense is honger, veral as hulle van ver af gery het. Dis net so moeilik om te skat vir hoeveel om reg te maak, ’n mens het nie ’n idee hoeveel mense gaan opdaag nie.”
“Hoekom vra jy nie mense om te RSVP nie? Dit sal jou mos ’n aanduiding gee van die getalle.”
“Moenie vir jou simpel hou nie, dis nie ’n troue waarvoor ’n mens uitnodigings stuur nie, mense daag op of hulle daag nie op nie.”
“Sanna, hulle beplan om op te daag, niemand drentel net van die straat af by ’n begrafnisdiens in nie. Dis soos jy sê – die meeste mense gaan moet ry Humansburg toe. Hoekom kan jy nie vra of hulle gaan kom nie?”
“Want dis nie hoe dit gedoen word nie, en jy weet dit.”
Sy sug. Sanna doen goed soos wat dit gedoen word, ja.
Maar haar suster is al weer aan die gang. “Die laaste begrafnis hier was ou oom Sampie Koegelenberg s’n, en sy dogter het ’n spysenier ingekry om die kos te doen. Dit was so mooi, met kerse op staanders, en daar was die lekkerste kos – Marokkaanse lam in sulke mooi, klein bakkies, en die heerlikste groenteslaai met suurroom. Glad nie die gewone soort eetgoed nie. Netnou lyk dit asof ons afskeep.”
“Dis ’n tee ná ’n roudiens, nie ’n kompetisie by die VLU nie. Ek weet in elk geval nie hoekom moet jy die kos reël nie, doen die kerk dit nie?”
“Ek sê jou dan die kerk gee net tee en toebroodjies, en dis soms maar karig. Jy weet hoe’s mense, hulle praat.”
“Dan praat hulle. Mense wat wil skinder, sal iets kry om oor te skinder al gee jy vir hulle gerookte salm op melbaroosterbrood.”
“Dis maklik vir jou om te sê, ek moet hier tussen hulle woon nadat alles verby is, jy hoef nie.”
Neusbrug. So hard dat dit pyn.
Dis nou weer een van daardie opmerkings wat klink na ’n doodgewone stelling, maar waaraan daar nog ’n laag betekenis is wat jy moet snap, maar nie durf verwoord nie.
Maar vandag, van alle dae, is sy nie lus vir hierdie raaiselspeletjies nie. “Wat is dit wat ek moes verstaan het, Sanna? Dit was ’n lang week, ek is moeg.”
“Niks.”
Sy kners op haar tande. “Wil jy hê ek moet iets saambring uit Pretoria? Blomme? Vrugte? Mooi sjokolades wat jy tussen die kos kan sit?”
“Nee dankie, die blomme en vrugte gaan in elk geval nie hou tot Vrydag nie, en die sjokolade gaan net smelt.”
Een, twee, drie, vier, vyf. “Nou hoe kan ek help? Wat kan ek doen om vir jou dinge makliker te maak?” “Niks. Jy’s mos besig, en ek sit mos die hele dag by die huis met niks om te doen nie. Ek sal alles reël.”
Ses, sewe, agt, nege, tien. “Jy hoef nie, Louise en Amalien is daar, hulle is albei bekwame boervroue, hulle kan jou help.”
“Hulle is op die plaas, dis te ver om dorp toe te ry vir sommer net.”
“Dis darem nie net sommer net nie, Sanna, en hulle is nie eers ses kilometer buite die dorp nie. Ek ry verder as dit werk toe elke dag.”
“Ja, op ’n snelweg.”
In haar slape het ’n hoofpyn begin klop, maar sy dwing die redelikheid in haar stem in. “Sal dit vir jou makliker wees as ons ’n spysenier kry om die eetgoed te maak? Ek kan vir jou nog geld oorbetaal as dit nodig is.”
“Nee, ek wil nie ’n spysenier hê wat die kos maak nie, dis nie iets wat ’n mens vir vreemdes gee om te doen nie. En ek het nog geld van die laaste oorbetaling wat jy gemaak het. Jy kan nie net altyd geld in die rigting van ’n ding gooi nie, Mart, soms moet ’n mens dáár wees om te help.”
Hierdie keer laat sy haar neusbrug doelbewus met rus. Netnou knyp sy hom morsaf.
“Oukei, dit klink my nie ek kan enigiets verder van hier af doen nie. Van môre af is ek daar, dan kan jy my in die werk steek. Ek weet ek is nie veel werd in die kombuis nie, en jy gaan my nie naby die kos vertrou nie, maar ek kan darem die skottelgoed was of ’n lap oor ’n tafel gooi. As ek dan vir niks anders goed is nie, kan ek vir jou tee maak.”
Dit laat haar suster se bek afblaas. So effe. “Oukei. Wanneer beplan julle om hier aan te kom?”
“Ons?”
“Ja, jy en die man van wie jy ons vertel het, wat nou nog nie ’n naam het nie. Hy kom tog sekerlik saam met jou?”
Haar moed sak sommer tot in haar skoensole. “Hy kan nie nou wegkom nie, hy’s besig.”
Sanna se stem klim sommer dadelik. “Besig? Hoe kan hy nóú besig wees?”
“Mense is besig, Sanna, hulle het verpligtinge. Ek kan nie van hom verwag om sy program opsy te skuif vir my nie.”
Daar is ’n onheilspellende stilte. “Hoekom nie? Dis juis in tye soos hierdie dat mense hulle programme vir mekaar opsy skuif.”
Die vraag vang haar onkant. Sy het nie daarvoor ’n antwoord nie, juis omdat sy met Sanna saamstem. “Omdat dit nie is hoe ons verhouding werk nie. Ons het albei verpligtinge, ons kan nie net alles laat val as die ander een iets aan die gang het nie.”
“Wat beteken dit, hou jy hom net aan vir seks?”
“Genugtig, Sanna!”
Dat haar preutse suster so iets kon kwytraak, het al klaar haar wind uit haar seile. Dat dit die tweede vrou in een dag is wat dié afleiding oor haar en Theuns se verhouding maak, krap onverwags. Diep.
“Bestaan die man ooit? Louise sê jy’t hom opgemaak net sodat … wel, jy weet hoekom, maar Bart sê jy sal nie so iets doen nie, jy’s te oukei daarmee om single te wees. Hét jy die man opgemaak?”
Hoe is Sanna nooit reguit oor enigiets nie, buiten oor goed waaroor sy nie reguit moet wees nie?
“Nee, ek het nie die man opgemaak nie, maar ek het ook nie ’n man nodig om Humansburg toe te kom nie. Ek was feitlik elke naweek die afgelope drie maande daar sonder ’n man aan my sy, en niemand het iets daarvan oorgekom nie.”
Maar die verhouding tussen haar en haar susters was later so gespanne dat sy hulle doelbewus onder ’n wanindruk oor die erns van haar en Theuns se verhouding gebring het, net sodat sy kan asemhaal.
“Wel, ek weet nie watse soort man laat ’n vrou vir wie hy omgee in die steek wanneer sy hom die nodigste het nie.”
“Ek het nie ’n man nodig nie!”
“O genade, daar het ek nou vir jou jou seepkissie reggesit. Ja, ek weet, jy’s genoeg net so op jou eie en ’n man is nie ’n kruk nie.” Aan die ander kant van die oproep sug Sanna ook. “Hoe laat verwag ek jou?”
“Namiddag se koers,” sê sy, dankbaar dat die inkwisisie blykbaar verby is. Die kwessie is nie verby nie, sy ken Sanna te goed om te dink dat haar oudste suster so ’n sappige onderwerp sommer net so sal laat staan, maar op hierdie oomblik sal sy enige breek vat wat sy kan kry. “Ek moet net gou ’n paar goed gaan afgee by die dosent wat vir my instaan, dan ry ek.”
“Laat my weet hoe laat jy wegkom dat ek weet wanneer om jou te verwag. Gaan jy hier wees vir middagete?”
“Nee, waarskynlik so koffietyd.”
“Moenie gemorskos langs die pad eet nie, ek sal vir jou iets bêre vir wanneer jy hier aankom.”
Sy haal diep asem. “Jy hoef nie, Sanna. Ek het plek bespreek in ’n gastehuis.”
Geskokte stilte. Dan kom Sanna se stem, boordensvol verwyt. “Maar hoekom? Jy weet hier is plek vir jou by my.”
“Jy het ’n vierslaapkamerhuis en vier kinders. Daar is nie plek vir my nie, jy moet jou kinders ontwrig om vir my ’n kamer te gee.”
“Hulle gee nie om nie, jy weet hulle is mal oor jou.” Jou kinders steur hulle skaars aan my, wil sy sê. Toe ek die naweek daar was, het hulle onder mekaar baklei asof ek nie bestaan nie. “Dis nou anders. Jy weet nie hoeveel van die familie gaan opdaag nie.”
“Maar hoekom bly jy dan nie liewer by Johan-hulle op die plaas nie? Dan is jy ten minste by almal, met Louise en Danie sommer langsaan. Johan-hulle het mos oorgetrek na die opstal toe, so hulle huis is nou beskikbaar. Amalien het reeds die plek begin inrig as ’n gastehuis, en Johan het gesê hulle hou dit hierdie week vir die familie.”
’n Week saam met Amalien se familie in ’n huis? Sy bly eerder in die veld saam met ’n hele familie pofadders in ’n nes.
“Ek wil nie so ver uit die dorp uit wees nie. Netnou is daar iets waarmee ek jou kon gehelp het, en dan is ek te ver,” lieg sy vlot. Hierdie leuen het sy lank voor die tyd uitgedink, en hy rol met gemak van haar tong af. “Buitendien, Ouma-hulle gaan waarskynlik by jou wil bly. Ontvang jy hulle liewer.”
Lang stilte. “Is jy seker dis die rede?”
Sy moet hierdie oproep beëindig voor sy môre met ’n blou neusbrug in Humansburg opdaag.
“Ja, ek is seker dis die rede. Luister, ek moet gaan. Ek het nog werk om af te handel, en ek moet nog pak. Ek sal vir jou ’n boodskap stuur as ek in Vryheid is, dan weet jy hoe laat om my te verwag.”
Sy kan hoor Sanna wil nie graag die onderwerp laat staan nie, maar Sanna ken haar nou ook al ’n leeftyd.
“Oukei, ry veilig,” is al wat Sanna sê.
“Ek sal. Sien julle môre. Groete vir Bart en die kinders.”

Toe die stuk tot ’n einde kom, laat sy haar hande eers so op die klawers lê. Die musiek mag verby wees, maar die tumult wat dit in haar binneste oopgebreek het, tier nog voort.
Sy het geweet Bach is ’n waagstuk, maar hoe hard sy nou ook al van hom af weggeskram het, vanaand het sy hom nodig gehad. Mozart sou ook gewerk het, of selfs Mahler, met sy donkerte en sy ewigdurende weemoed, maar Bach is die een wat van haar absolute eerlikheid vereis. Met Mozart kan sy haar emosies vrye teuels gee, en Mahler maak haar melancholie geldig, maar Bach dwing haar om te erken waar die emosies vandaan kom. Juis vanaand het sy nodig om erkenning te gee aan hierdie konflik in haar, hoe moeilik dit nou ook al is.
Sy sit nog so, half verdwaas oor wat die musiek alles in haar losgebreek het, toe sy die figuur op die stoep gewaar. Sy wil eers skrik, want sy het die stoepdeure oop gelos sodat die koel herfsaand ook die ongedurigheid in haar kan temper, maar dan herken sy die silhoeët in die maanlig. Die rowwe baard was vanmiddag ook opmerklik.
Sy wil opvlieg en hom summier wegjaag. Op hom skree dat hy haar privaatheid skend, en dat hy geen reg het om hom op haar stoep tuis te maak nie. Maar iets aan sy houding keer haar. Hy sit doodstil, met sy hande lossies op sy skoot inmekaargevou en sy kop teen die rugleuning gestut.
Stadig staan sy op en stap nader aan die roerlose figuur. Sou hy op haar stoep aan die slaap geraak het? Maar toe sy oor die drumpel trap, sien sy die blink van die oë. Hy is wakker, en hy het die hele tyd daar gesit en haar dopgehou.
Sy maak haar mond oop om hom weg te jaag, maar hy spring haar voor.
“Dankie.”
Dit gooi haar. Nie net die woord nie, maar die stem ook. Dis diep en grof, asof dit emosie dra.
In die nadraai daarvan, en van die opregte waardering waarmee hy die woord gesê het, voel dit verkeerd om hom uit te trap. Laat hy dan nou maar uit sy eie opstaan en loop. Hy sal seker, noudat sy ophou speel het.
Maar hy roer nie, sit net daar met sy oë op haar. En om een of ander vreemde rede raak die stilte tussen hulle dik en swaar.
“Waar is Nettie?” vra sy om die ongemak te verbreek.
“My ma het haar kom haal.”
Snaaks, sy het nie nog ’n motor langsaan gewaar buiten die nuwe eienaar se Mercedes nie, maar sy het nou ook nie vreeslik noukeurig opgelet nie. En toe bel Sanna ook nog. Plus, die komme en gane van haar bure was nog nooit vir haar belangrik nie.
“Ek sou ook al gery het, maar ek was besig om op te pak toe hoor ek die klavier. Jy speel aangrypend. Ek is so bly ek het dit nie misgeloop nie.”
Sy knik ’n erkenning, maar skram dadelik weg van die kompliment. Dis makliker om agter haar werk in te klim, dit werk al vir haar vandat sy op laerskool was. “Het jy Nettie al by ’n pediater gehad?”
’n Paar oomblikke sit hy so asof hy haar opsom, maar dan antwoord hy tog: “Nettie is outisties. Sy is hoogfunksionerend, maar so nou en dan is dit ’n slegte dag en dan werk die speelskool nie. Haar terapeut het aanbeveel dat ons haar op sulke dae by die huis hou.”
Sy knik. Al die tekens was vanmiddag daar. Sy het toe gewonder of hy die kind behoorlik laat diagnoseer het, maar sy kan hoor hy het Nettie by spesialiste gehad. Die man mag ’n gewone arbeider wees, maar dat hy sy dogter se welstand op die hart dra, is nie altemit nie. Sy weet wat sulke diagnostiese toetse en terapie kos.
“Dit lyk asof julle goeie werk doen. Haar interaksie met vreemdelinge is goed.”
“Ja, dit het werk gekos, maar dis nooit klaar nie. Jy sal weet wat ek bedoel – elke nuwe ontmoeting waar sy nie net weghardloop nie, is ’n mylpaal. En kinders wat nie verstaan waarmee sy spook nie, kan soms so wreed wees. My ma-hulle neem haar en haar niggietjies juis môre saam op vakansie sodat sy ’n slag maatjies het wat haar net aanvaar.”
“Dis nie net kinders wat wreed is nie, mense is wreed.”
Dit het sy meermale gesien. Ouers wat nie met ’n gestremde kind opgeskeep wil sit nie, die ergste van almal.
Hierdie man is aan die ander kant van daardie spektrum. Sy deernis en begrip vir sy kind straal uit hom soos lig.
Groot, groot, groot regmerk agter sy naam.
“Waar is Nettie se ma?”
“Nie in die prentjie nie.” Daar was geen verandering in die stemtoon nie, maar sy kan letterlik hoor hoe die deur toeklap. Dis nie ’n onderwerp wat oop is vir bespreking nie.
Dit kan sy ook verstaan. Grense is nie vir haar ’n vreemde konsep nie.
Sy kyk hom weer. Hy het intussen ’n hemp en ’n verslete bosbaadjie aangetrek, maar hy is nie skoner as wat hy vanmiddag was nie. En tog, selfs met die werksklere aan en selfs in die donker is sy bewus van die aantrekkingskrag van die harde, manlike lyf, en van die vreemde, teenstrydige sensitiwiteit in die hande. ’n Stort en skoon klere sal wondere vir hom verrig.
Boonop kan sy aan sy gepraat hoor dat hy nie totaal onnosel is nie. As hy ’n kind met spesiale behoeftes se primêre versorger is, maak dit ook sin dat hy werk doen wat hom in staat sal stel om na haar om te sien, al vereis die werk dan nou handearbeid en al beteken dit ’n kleiner inkomste.
Sy stap om die stoel wat sy as ’n skans tussen hulle gebruik het, en gaan sit. In haar agterkop het daar ’n idee ontkiem. Dis mal. Gek. Heeltemal onsinnig. Maar dis nie maller as om ’n man op Tinder op te tel nie.
“Hoe lank gaan Nettie by jou ouers wees?” vra sy.
“’n Week, as dinge goed verloop.”
“En jy? Is jy klaar hier langsaan?”
“Wel, ek moet nog die muur tussen ons bou waar die heining was, maar die huis en tuin is klaar.”
“Het jy ’n ander projek in die vooruitsig? Onmiddellik, bedoel ek. Begin jy binnekort iewers anders werk?”
“Hoe bedoel jy nou?”
Sy haal diep asem. “Ek het werk vir jou. Dit gaan ’n week van jou tyd in beslag neem, en jy moet bereid wees om te reis. Ek weet nie wat jou normale tarief is nie, maar ek is bereid om dit te verdubbel.”
“My tarief?”
Miskien nie heeltemal so vlug van begrip nie.
Maar goed, wat sy wil voorstel, is nou ook nie iets wat ’n normale mens in die loop van ’n normale gesprek sal voorstel nie. “Ek sal jou dubbel betaal wat jy my ook al sou gevra het om my tuin oor te doen.”
Lang, lang stilte terwyl hy haar sit en betrag. Dan sit hy vorentoe. “Watse werk is dit?”
“Ek het ’n man nodig. Wel, nie ’n man nie, ’n boyfriend.” Neusbrug. “Ek het ’n familieding, en ek het my susters laat verstaan ek het iemand in my lewe. Ek kan nie nou daar opdaag sonder die man nie.”
Selfs in die donker kan sy die ongeloof aanvoel. Sy neem hom nie kwalik nie, sy glo self nie dat sy voorstel wat sy voorstel nie.
“Kyk, ek weet hoe dit klink, en as ek jy was, het ek nou in my bakkie gespring en weggejaag. Maar jy ken nie my susters nie.”
Laggie in die donker. “Laat ek raai, jou suster trou, en jy het ’n plus one nodig. Nee wag, jou jónger suster trou, en almal gaan jou vra waar jou deksel is.”
“Nee, dit het al gebeur. Al my sibbe is getroud. By Sanna se troue was dit nog nie ’n kwessie nie, want sy is direk ná skool getroud, en ek het toe nog geswot. Toe Johan en Amalien getroud is, het die tantes begin skinder, maar ek het ’n verskoning gehad – ek het daardie tyd gespes. Louise en Danie se troue was hel, maar ek was die hoofstrooimeisie, en daar was ’n strooijonker wat my metgesel kon wees. Dit het ten minste die tafelplasings laat uitwerk.”
Sy babbel, daarvan is sy deeglik bewus. Hy ook, merk sy op, want sy sien die opgetrekte wenkbroue. “Ek is jammer, dis te veel inligting. Die hele situasie het my net oorhoeks.”
Nog ’n lang stilte, dan skud hy sy kop. “Ek koop dit nie. Jy is nie die tipe wat oor mense se geskinder oorhoeks sal raak nie. En jy is te bekwaam dat jy by ’n gewone familiekuier ’n man aan jou sy hoef te hê. Wat gaan aan, Mart?”
Sy staan op. In haar ingewande voel sy die bekende brandpyn, en sy weet dis nou noodsaaklik om hom van haar stoep af te kry.
“Weet jy wat, vergeet ek het gevra. Dis ’n mal idee, en ek moes dit nooit voorgestel het nie. As ek nie in die eerste plek vir my susters gelieg het nie, was ek nie nou in hierdie pekel nie, en daar is eintlik net een manier om hier uit te kom: Ek sal moet eerlik wees. Jy is reg, ek het nie ’n man nodig nie, nie eers nou nie, en ek het geen reg om ’n vreemdeling by my familie se waansin te betrek nie. Wat gebeur het, het gebeur, en dis hoog tyd dat almal dit so aanvaar.” “Oukei, ek sal saamgaan.”
“Dis nou maar net Sanna se oproep wat alles weer oopgekrap het.”
“Ek sê dis oukei, ek sal saamgaan.”
“Buitendien, jy het hard gewerk, en jy verdien ’n breek, die laaste ding op aarde wat jy nodig het, is ’n week op Humansburg saam met die Louws …”
“Mart.”
Net dit, net haar naam. Die blote manier waarop hy dit sê, het haar weer geaard.
“Ekskuus, ek praat te veel. Ja?”
“Ek sal saam met jou gaan.”
Amper val haar mond oop. “Jy sal saamgaan? Hoekom?”
“Want jy’t my nodig.”
“Nee, ek het nie! Ek het nog nooit ’n man as ’n kruk gebruik nie, ek gaan beslis nie nou begin nie.”
Hy sug swaar. “Jip, ek het jou reg opgesom – ek kon sommer so oor ’n afstand sien jy’s die onafhanklike tipe wat oor alles gaan stry. Ek het nie gesê ek sal ’n kruk wees nie, ek het darem ’n bietjie te veel selfrespek daarvoor. Maar dit klink vir my jy het ’n moeilike week wat voorlê, en as ek dit vir jou makliker kan maak deur saam te gaan, doen ek dit.”
Dit het haar ademloos. Onwillekeurig skiet Theuns se blatante weiering vanoggend om saam te ry deur haar kop. En kort op die hakke daarvan, Sanna se woorde: ’n man wat daar is vir jou as jy hom nodig het.
Sy sluit haar oë teen die skielike branding. “Ek sal jou betaal.”
Hy rank stadig uit die stoel uit. Kom nader tot hy voor haar staan en sy haar kop moet kantel om na hom op te kyk. Dis die eerste keer in ’n lang tyd dat sy haar kop hoef te kantel.
“Kom ons los eers die geld en kry net eers die week agter die rug. Wanneer wil jy ry?”
Die oë is naby genoeg dat sy selfs in die donker die warmte daarin kan eien.
“Jy hoef regtig nie …”
“Dis afgespreek, Mart,” keer hy haar. “Wanneer wil jy ry?”
Sy sluk. Sy het haarself nou hierin, en daar is nou net een weg en dis vorentoe. “Môreoggend. Ek moet net eers voorbereiding by ’n kollega gaan aflaai, dan kry ek jou sommer op pad. Ek weet net nie waar jy bly nie.”
“Ek sal sorg dat ek môre seweuur hier is. Wil jy met jou kar ry?”
“Ja.” Sy kan nie dink dat sy rammelkas van ’n bakkie die rit Humansburg toe gaan oorleef nie. Sy haal diep asem. “Laat ek vir jou my nommer gee. As jy tussen vanaand en môre besluit jy wil nie by hierdie malligheid betrek wees nie, laat my weet. Ek sal jou nie vir ’n oomblik kwalik neem nie.”
“Ek gaan nie kop uittrek nie. Maar hier is my nommer as jy dit nodig het.”
Sy neem die visitekaartjie by hom. Dis te donker dat sy kan lees wat daarop staan, maar sy kan ’n naam en ’n nommer sien.
“Dankie. Ook nogmaals vir jou bereidwilligheid om by so ’n mal plan in te val.”
Hy lig sy hand asof hy aan haar wang wil raak, maar laat val dit weer asof hy hom bedink het. “As jy wil hê jou familie moet glo ek is jou boyfriend, kan jy nie dankbaar wees oor iets wat ek vir jou doen nie. Geliefdes doen goed vir mekaar omdat hulle mekaar liefhet. Die beloning daarvoor is waardering, nie dankbaarheid nie.”
Sy het haar met hierdie man misgis, besef sy. Hy mag sy geld met sy hande verdien, maar hier is ’n fyn gees, en ’n baie diep insig in die menslike natuur.
“Luister, ek …”
Maar hy gee haar nie kans nie. “Wat moet ek inpak? Waar gaan ons heen?”
“Humansburg. Dis in Zoeloeland, naby Vryheid.”
“Zoeloeland? Dan neem ek aan somersklere vir die dag en ’n warm ding vir saans. Maar watse soort familiebyeenkoms is dit? Is dit net ’n kuier, of is dit formeel? Het ek ’n pak nodig?”
So ver het sy nie eers gedink nie. “Dis dalk beter, ja. Dis ’n konserwatiewe gemeenskap en hulle doen nog goed op die outydse manier. Ons kan môreoggend gou eers by die winkels aanry en vir jou iets kry. Ek sal daarvoor betaal.”
“Moenie stres nie, my suster is onlangs getroud, en ek het ’n donker pak daarvoor gekoop. Sal dit werk?” “Ja, dit sal werk.”
“Stemmige das?”
“Stemmig, ja.”
Hy staan haar en aankyk. “Hoe stemmig? Is dit vir ’n kerkdiens?”
“Ja.”
“Waarvan praat ons? Doopstemmig of begrafnisstemmig?”
“Begrafnisstemmig.”
Hy knik stadig. “’n Familiebegrafnis. Geen wonder jy het ondersteuning nodig nie. Wie se begrafnis is dit?”
Sy draai weg en buk om die stoepdeur se knip los te haak. “Môreoggend seweuur. Ons moet net in Lynnwood aanry, ons kan sommer daar brandstof ingooi.”
“Mart.”
“Ja?” Sy bly so staan, deur in die hand.
“Wie is oorlede?”
Hy het nie beweeg nie, maar selfs in die dowwe lig kan sy die deernis in die oë lees. Ekspressiewe oë, wat niks wegsteek nie.
Sy kan nie, nie met deernis nie, nie nou nie.
“My ma,” sê sy, en trek die deur op knip.


Twee
Zoeloeland, April 1945
Die stilte dawer en dawer en dawer. Alles het gaan stilstaan, soos wanneer een van die films waarna hulle soms in die kerksaal gaan kyk in die projektor vashaak en die tonele op die skerm stol.
Dis asof Liesbet in hierdie gestolde werklikheid alles duideliker waarneem: die jaag van haar eie asem, haar hart wat soos ’n wilde muil teen haar ribbekas skop, die skaamte wat in warm branders oor haar breek, so erg dat sy wens sy eerder by die deur kan uitloop, die namiddag in, die wêreld in, as om die afgryse op haar mense se gesigte te aanskou.
Hulle is almal daar: Ma, Andries en Benna, almal ewe roerloos, almal met dieselfde ontsetting in hulle oë.
Ma se hand is om die staldeur geklem, die kneukels spierwit in die dowwe lig. Lank staan sy so, haar kyk blind, haar mond weerloos in die nadraai van die toneel waarna sy staar.
Uiteindelik, uiteindelik laat Ma die deur los. Toe sy praat, is haar stem grof, die woorde afgemete: “Gaan huis toe, Liesbet. Maak vir jou betaamlik.”
Sy staan daar, steeds met die flarde van haar rok teen haar bors vasgeklem. Wat verwag haar ma, dat sy moet omdraai en wegstap van hierdie oomblik asof daar niks gebeur het nie?
Sy skud haar kop verdwaas. “Ma …”
Ma se gesigsuitdrukking het nie verander nie. “Maak soos jy gesê word, Liesbet. Ouboet?”
Andries staan nog net daar langs Ma, sy gesig so wit soos sy hemp. Die hemp is nog skoon, al is hy al heeldag in die veld besig. Sy hande ook, die mooi hande met die lang, sensitiewe vingers wat so gevoelvol op die huisorrel kan speel wanneer hulle saans boekevat, dié is ook nog so skoon soos toe hy vanoggend saam met Vuyo uit is om te gaan bees dip. Maar onder die hemp ruk die maag, daardie sigbare teken wat hy van sy kleinseuntjiedae af met hom saamdra dat sy siel nie wreedheid kan verwerk nie.
Maar Ma gee hom nie kans nie. “Gaan haal ’n laken uit die linnekas. Maak seker dis nie geskif in die middel nie. Kry een van die nuwes as dit moet.”
Andries reageer nie.
“Benna, help vir Ouboet. Was jou hande eers met seep en maak seker dis skoon voor jy aan die laken vat. Bring die laken terug hiernatoe sodat jy my kan help dra. Verstaan jy wat ek vir jou sê?”
Benna reageer ook nie.
“Beweeg!”
Dit laat hulle lewe kry. Andries draai om en strompel huis se kant toe, met Benna agterna.
Sy sien hoe Ma die seuns staan en agternakyk tot hulle om die hoek is. Dan sê sy: “Gee pad daar, Liesbet.”
“Ek …”
“Nou!”
Met die flenterrok nog so in albei haar hande vasgeklem, strompel sy staldeur se kant toe, verby Ma, tot buite in die verblindende Zoeloelandse sonlig. Staan vir ’n paar oomblikke daar terwyl sy probeer verwerk aan alles wat die afgelope kwartier gebeur het. Kom nie verder as die ontsetting en die verleentheid en die suur branding wat in haar opstoot nie.
Sy wil omdraai sodat sy uit die nagmerrie kan wakker word. Sy wil terugstap, agteruit in die stal in en van daar af terug op haar spore soos wat sy netnou van die huis af gekom het met die waansinnige hoop dat dit die tyd sal terugdraai en vanmiddag se gebeure sal uitwis.
Maar al wat daar in die helder, wit middag is, is Ma wat die .22 sorgvuldig met die soom van haar voorskoot afvee, in die donker stal inkorrel en ’n enkele skoot afvuur.
Sy staan daar, verlam van vrees en afgryse. Dis eers toe Ma haar aan die boarm vat en huis toe draai dat sy aan die beweeg kom.
“Was vir jou behoorlik, Liesbet, ook binne-in jou, so diep as wat jy kan bykom. Was jou hare en skrop onder jou vingernaels. As jy klaar is, trek vir jou daardie wit rokkie van jou aan, en vleg jou hare en steek dit vas soos wat jy maak as ons kerk toe gaan. Toe, my kind, daar is nie baie tyd nie. Kom eetkamer toe as jy klaar is.” Daarmee draai Ma op haar hak om en stap doelgerig huis toe. Daar bly vir haar niks anders oor as om te maak soos Ma gesê het nie.

Toe sy uiteindelik die eetkamer instap, is die mooi lappie wat Ma spesiaal vir die lang tafel geborduur SOPHIA KAPP 41 het en die kandelaar wat nog saam met die Groot Trek uit die Kolonie gekom het weg. In die plek daarvan is daar ’n nuwe laken oor die tafel gedrapeer. En in die middel van die tafel, soos die geroosterde vark in die outydse skildery wat miss Mortimer vir hulle in haar kunsboek gewys het, lê Hendrik van Biljon uitgestrek, sy hande ewe vroom op sy bors gevou, die fletsblou oë en die gemene mond toe, ’n kussing teen sy kennebak gedruk sodat dit nie oopval en so bly staan nie.
Aan die kop van die tafel sit Ma in ’n skoon rok, haar hare netjies gevleg en om haar kop vasgesteek. Langs haar staan Andries, en aan die ander kant is Benna, sy hand in Ma s’n toegevou. Voor hulle op die tafel, presies haaks met Hendrik se kop, lê die .22.
Ma kyk haar op en af, en knik goedkeurend. Die wit rok is nog nuut en ten spyte van die streng lyne – een van die gevolge van die skaarste aan alles, van lap tot gare tot sykouse tot petrol, wat met die oorlog gekom het – weet sy dat dit haar vlei. Sy lyk mooi en vars en onskuldig daarin, selfs in hierdie oomblikke wat sy glad nie een van die drie voel nie.
“Kom sit, ek wil met julle praat,” sê Ma.
Sy trek ’n stoel uit en gaan sit. Kyk na Andries, maar dié hou sy oë op sy skoenpunte gerig asof hy nie kan verduur om met enigiets in sy omgewing saam te leef nie.
“Ek het die polisie gebel en hulle is op pad,” kondig Ma aan. “Ek wil van julle al drie ’n plegtige belofte hê dat julle nie een ’n woord gaan rep oor wat vandag op hierdie plaas gebeur het nie. Nie vandag nie en ook nie later nie. Dit wat ons gesien het, bly tussen ons vier, en dit gaan saam met ons in die graf in, verstaan ons mekaar?”
Dit laat Andries opkyk en frons. “Wat bedoel Ma?”
Sy sien die lig van die ken, die reguittrek van die ruggraat, die fier skouers. Dis so kenmerkend van Ma. Dis die prentjie wat sy in haar kop met haar saamdra van die vrou wat haar grootgemaak het – sterk, trots, reguit, eerbaar. Die rots onder haar voete. Die spil van alles wat sy ken.
“Wat ek sê,” sê Ma. “Nie een van julle was vandag naby die stalle nie, en nie een van julle weet wat daar gebeur het nie.”
Andries skud sy kop verdwaas. “Wil Ma hê ons moet lieg? Vir die gereg?”
Liesbet kan sien hoe haar ma se greep op Benna se hand verstyf. “Jy was nie by die stalle nie, jy weet van niks.”
“Maar …”
“Anneries, ek is jou ma, jy maak soos wat ek vir jou sê. Dieselfde geld vir jou, Liesbet – jy was nie by die stalle nie, jy was elders.”
Sy was nie daar nie? Hierdie ding wat met haar gebeur het, hierdie wegskeur van alles wat sy was, was nie werklik nie?
Sy wil opspring en gil dat dit nie iets is wat ’n mens ter wille van die skyn van welvoeglikheid onder die mat invee nie. Sy wil braak, bo-oor die reste van die man op die tafel, en hom beklad met dieselfde vernedering wat hy haar opgelê het. Maar daar is ’n onversetlikheid aan Ma wat maak dat sy woordeloos bly sit, selfs onder die paniekerige smeking in Andries se oë.
“Al die papiere wat julle nodig het, ook die kaart en transport vir die plaas en die aflosbrief vir die verband, is in die Familiebybel. My bankboekie is in die koffieblik onder in my hangkas. Daar is ’n bietjie kontant ook in die blik. Gebruik maar spaarsamig daaraan, ek weet nie of die bank julle toegang tot die geld in die plaas se rekening gaan gee nie. Kry wat julle nodig het by Leschinski, hy is ons goedgesind. Laat hy alles opskryf, en vra die prokureur om met hom reg te maak tot julle toegang het tot die bankrekening.”
“Die prokureur? Waarheen gaan Ma dan?” vra sy verward.
Onder in die plaaspad is daar ’n dreuning wat al hoe harder word.
Ma kyk na die liggaam op die tafel, dan terug na haar. “Dis hoe dit werk, Liesbet. Die gereg soek vir elke lyk ’n verdagte om aan te keer. Ons gaan dit nie kan vryspring nie. Hulle arresteer eers, dan gee hulle jou kans om jou saak te stel.”
“Maar Ma het niks verkeerd gedoen nie!”
Die dreuning het op die werf stil geraak, en sy hoor hoe twee motordeure klap.
“Jou belofte, Liesbet. Jy laat hierdie saak in my hande.”
“Maar …”
Ma hou haar hand omhoog, en sy sluk haar beswaar weg.
Daar is ’n harde klop aan die voordeur, manstemme wat opklink, voetstappe al met die plankvloer in die gang langs. Die volgende oomblik stap twee polisiemanne die eetkamer binne.
Die voorste een is kort en dik en rooi van die hitte en te veel brandewyn. Sy swart ogies blink soos twee krale in sy pofferige gesig, en sy lippe krul vlesig weg van tande wat vergeel het van sigaretrook. Die tweede, wat duidelik die handlanger is, is lank en skraal, sy hare so kort geskeer dat ’n mens sy kopvel daardeur kan sien.
Die korte kyk hulle eers almal deur, en kondig dan ewe breedsprakig aan: “Ek is sersant Booysen, dis konstabel Pienaar. Iemand het ’n skietvoorval aangemeld, ons is hier om die saak te ondersoek.”
Ma knik. “Dis ek wat gebel het.”
Die konstabel leun nader aan die liggaam en ruk dan verskrik terug. “Jirre, dis Van Biljon!”
“Wie?” frons die sersant.
“Van Biljon, die bankbestuurder. Hy’s nuut op die dorp. Hy’t verlede jaar van Glencoe af gekom om die tak te bestuur.”
Ma beduie na die buffet. “Ons is getroud. Die sertifikaat is voor in die Bybel.”
Die konstabel stap oor na die buffet, trek die gehekelde lappie van die Familiebybel af en slaan dit oop. Haal ’n handvol sertifikate daaruit en kyk vlugtig en sonder enige begrip daardeur. “Hier’s baie papiere, ’sant.”
“Dis die boonste een,” sê Ma. “Die ander sertifikaat is vir my huwelik met my eerste man. Sy doodsertifikaat is ook daar.”
Die sersant neem die papiere by die konstabel en bekyk dit stip. “Jou vorige man is verlede jaar Oktober oorlede?”
“Ja.”
Hy knik stadig. “Ek sien hier hy’s aan ’n skietwond dood.”
“Ja.”
Die sersant kyk lank na Ma. “En jy is in Januarie met Van Biljon getroud?”
Liesbet kan sien wat hy dink: Die vrou ryg mans in soos krale aan ’n snoer, en sy skud vir hulle net so maklik uit as sy vir hulle moeg is.
Sy wil vir hom skree dat haar ma nie so is nie, dat haar ouers gelukkig was tot haar pa se ontydige dood verlede jaar toe ’n perd hom gegooi het en die .22-patroon hom in die keel getref het. Dat gierige Hendrik van Biljon hier opgedaag het met die verband op die plaas in sy hand en die dreigement dat hy die grond onder hulle gaan uitvat as Ma nie plan sien nie. Dat Ma geweier het om haar agtienjarige meisiekind aan Hendrik af te staan in ruil vir die aflos van die verband, maar ingestem het om self met hom te trou om haar kinders se erfgrond vir hulle te bewaar.
Maar sy kan sien die sersant gaan nie na haar luister nie. Die swart ogies blink van lekkerkry en is stip op Ma gerig.
“En nou is jou tweede man dood, ook aan ’n skietwond.”
Ma knik bedaard. Al waaraan ’n mens die spanning kan sien, is die wit kneukels van die hand wat steeds Benna s’n vashou.
“Waar’s hy doodgeskiet, hier op die eetkamertafel?” vra hy sarkasties.
“Nee, in die stal. Ek wou hom nie daar los nie, dit was … onwaardig.”
“Onwaardig?”
“Hy het familie op die dorp,” sê sy. “Ek wou nie gehad het hulle moet weet wat gebeur het nie.”
“En wat het gebeur, Mevrou? Het hy ook van die perd afgeval en homself per ongeluk geskiet?”
Langs Ma begin Andries se lyf ruk, en hy klamp sy hand vinnig oor sy mond voor hy uit die vertrek storm. Almal staan en luister hoe hy in die gang af hardloop tot by die badkamer en die deur agter hom toeklap.
“Wat’s fout met hom?” vra die sersant.
“Dis Anneries Vermaak, my oudste seun. Verskoon hom asseblief, sersant, hy’s pas sestien en hy treur nog oor sy pa. Hy was in die veld by die beeste, hy’t niks gesien nie.”
“En dié?” beduie hy in haar rigting.
“Dis my meisiekind, Liesbet Vermaak. Sy’s nou agtien. Sy was ook nie daar nie, sy’t in haar kamer gesit en storieboek lees toe dit gebeur het.”
Die sersant kyk haar behoorlik op en af, en sy voel hoe haar vel onder daardie blik begin kriewel. Dis dieselfde blik waarmee Hendrik van Biljon haar aangekyk het, dieselfde gulsige uitdrukking in die oë, dieselfde walglike eiegeregtigheid wat hulle laat dink hulle het die reg om haar te beskou asof sy ’n ding is.
Gelukkig kyk hy weg voor hy haar sien ril. “En dié seun?”
Ma sluk. “Dis my jongste, Benjamin.”
“Benjamin?”
Benna staar hom aan met daardie gewone afwesige uitdrukking in die oë.
“Waar was jy toe jou stiefpa geskiet is, seun?”
“Hy praat nie,” sê Ma. “Hy kan nie.”
“Hoekom nie, is hy doof?”
“Nee, hy kan hoor, hy is net … anders. Hy praat nie.”
“Hy’s ’n imbesiel,” fluister die konstabel hoorbaar. “Ek het gehoor hulle praat op die dorp van die vertraagde Vermaak-kind wat hulle op die plaas wegsteek.”
“Daar’s niks fout met hom nie,” protesteer Ma heftig. “Hy kan verstaan, en hy is my regterhand hier op die plaas. Hy’s net anders. Maar hy was ook nie daar nie, hy was by Liesbet, sy’t vir hom gesit en lees. Hy weet ook nie wat gebeur het nie.”
Die sersant knik stadig en beduie dan in die rigting van die wonde aan Hendrik van Biljon se keel. “So. Dis nou die tweede man wat binne ses maande op die plaas doodgeskiet is. Gaan jy vir my probeer vertel dié een is ook ’n ongeluk?”
Op haar bors het die angs begin saampak. Hier is iets aan die gang wat sy nie verstaan nie. Die spanning tussen haar ma en die sersant trek soos ’n rek, maar sy weet nie waaroor dit gaan nie. Dis duidelik dat die sersant Ma probeer aankeer, maar sy ken haar ma – die sersant dink hy lei haar aan die neus rond, intussen is hy die een wat ingetrek word.
“Nee, sersant,” hoor sy Ma sê, “hierdie een was nie ’n ongeluk nie.”
Die sersant se wenkbroue skiet omhoog. “Dit was nié ’n ongeluk nie?”
“Nee.”
“Iemand het hom doelbewus geskiet?”
Ma knik oënskynlik bedaard.
Die vlesige lippe krul in ’n grimas. “Wie sou dit wees, Mevrou, wat so ’n vooraanstaande lid van die gemeenskap so koelbloedig om die lewe gebring het?”
Sy sien hoe Ma haar asem intrek, hoe die ken lig. “Ek het hom geskiet. Hier is die geweer, julle kan maar kyk, dis waarmee hy geskiet is. Ek was die enigste een wat daaraan gevat het.”
Asof deur ’n waas sien sy hoe die konstabel se pap bek oopval. Selfs die sersant lyk uit die veld geslaan, asof hy nie die erkenning te wagte was nie.
“Jy’t jou man geskiet?”
“Ja.”
Ma, wat maak Ma? wil sy skree, maar Ma se blou blik pen haar in haar stoel vas.
“Ek het hom geskiet. Hy het my in die stal … verneder, en ek het hom uit wraak doodgeskiet.”
“Jy’t jou wettige man doodgeskiet omdat hy …?”
Ma trek haar mond op ’n streep. “Ek laat my nie verkleineer nie. Ek is nie ’n hoer wat sommer net in die stal gebruik kan word nie.”
Sy laat die suggestie so hang, maar dis duidelik dat die sersant begryp wat sy hom wou laat begryp.
“En die .22, was dit sommer toevallig byderhand, daar in die stal?”
“Nee, ek het dit saamgevat soontoe. Ek het geweet hy gaan dit doen, dit was nie die eerste keer nie.”
“Jy’t hom daar ingewag!” slaan die sersant toe. “Jy’t hom met voorbedagte rade vermoor!”
“Ek het hom ingewag, ja,” sê Ma deur stywe lippe.
“Ma!” krys sy dit uit.
“Bly jy stil, Liesbet. Sersant, ek is gewillig om saam met julle te gaan, maar gee my kans om my kinders te groet. Benna gaan nie verstaan wat aangaan nie, ek wil hom net voorberei.”
Die sersant lyk vir ’n oomblik half verdwaas oor die saak wat so netjies in sy skoot geval het. Hy het hom opsigtelik klaargemaak vir ’n om-die-bos-springery en ’n spul flou leuens waardeur hy met sy meerdere intellek sou kon sien. Hierdie kalm, regop vrou, met haar onwrikbare blik en die trotse houding, pas nie by die toneel waarin hy homself wou plaas nie.
Maar dit verbouereer hom net ’n oomblik lank. Met die skulderkenning in die sakkie is dit vir hom moontlik om die gesag wat deur sy uniform aan hom toegeken is, behoorlik aan te wend.
“Staan op en hou jou hande agter jou rug,” gebied hy terwyl hy die boeie van sy gordel afhaal.
“Ma!”
“Ek het gesê ek wil my kinders groet. Benna …”
Maar hy luister nie verder nie, tree vorentoe en kry Ma aan die arm beet.
Dis toe hy haar hand uit Benna s’n ruk, dat alle hel losbreek. Benna, die veraf, stil kind wat nog nooit taal tot sy beskikking gehad het om met die werklikheid kontak te maak nie, maar wat nietemin elke gedagte verstaan het wat Ma ooit gehad het, het die losruk aan sy siel gevoel. Toe die sersant Ma se hande in boeie wil slaan, is hy daar, grommend, kwaai soos ’n hond wat sy mense oppas, sy hande in kloue, gereed om enigiemand wat aan Ma raak, te verskeur.
Die sersant vloek van die skrik en spring uit die pad, en in die proses stamp hy die konstabel amper onderstebo. Dié skrik net so groot en stamp die stoel om waarop Ma gesit het. Die lawaai sit Benna behoorlik aan die brul, en hoe meer Ma hom probeer kalmeer, hoe meer verbouereerd raak hy.
“Jirre, ’sant, die kind is mal, kyk hoe rol sy oë in sy kop!”
“Benna, moenie so skree nie, Liesbet, moenie net daar sit nie, help my! Benna? Benna, kalmeer!”
“Hy’t my gebyt! Die bliksemse kind het my gebyt. Kyk hier, aan my hand. Kyk, daar sit die tandmerke! Dis ’n aanval, ’n aanval op ’n dienaar van die gereg!”
“Ouboet, waar is jy? Kry vir Benna hier uit. Hy’s so sterk soos ’n leeu, ek kan hom nie beheer nie!”
“Ek het die reg om myself te verdedig. Dis selfverdediging, sê ek julle. Hy’t my gebyt. Ek is ’n sersant, niemand byt aan my nie!”
Liesbet hoor die losgaan van die knip aan die leerholster, sien die glim van die grys staal, hoor die oorhaal van die haan.
Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Ma haar lyf voor Benna s’n ingooi.
“Nee!”
Sy spring vorentoe en stamp die ronde lyf eenkant toe, net toe hy die sneller trek. Die koeël fluit links van konstabel Pienaar se linkerskouer verby en slaan skadeloos in die muur vas, maar die konstabel skrik so groot dat hy sy hande oor sy kop gooi en onder die tafel induik.
In die nadraai van die knal is dit asof die toneel in die eetkamer ook gestol het. Almal staan verstar, selfs Benna is stil.
Die sersant is ’n vrot skut, dit besef sy dadelik. Sy het met gewere grootgeword, en sy weet sommer hierdie een weet niks van skiet af nie. Al het sy hom nie gestamp nie, sou hy nog steeds nie vir Benna raakgeskiet het nie.
Maar dit neem nie die feit weg dat hy wou nie.
Konstabel Pienaar is die eerste wat sy stem vind. Hy hys homself aan die tafel orent, die ene wit oë. “My jirre, ’sant, kyk jy nie waar jy skiet nie? Amper is ek bokveld toe.”
Sersant Booysen skud sy kop verdwaas, asof hy nou eers besef wat hy amper gedoen het. “Arresteer haar!” beveel hy skor. “Kry daai godverdomde kind hier uit en arresteer die teef. Dit sal vir my die grootste plesier wees om in die verslag te skryf hoe sy daai imbesiel aangehits het om my aan te rand toe ek net my plig wou uitvoer!”
“Nee!” Sy draai na hom met uitgestrekte hande asof sy die onheil so kan afweer. “Sersant, julle kan nie my ma wegneem nie, sy …”
Die vet mannetjie steek amper sy vinger in haar oog. “Staan opsy, of ek arresteer jou ook sommer vir dwarsboming van die gereg. Ek het van julle hele gespuis heeltemal genoeg gehad. Hou vas daai satanskind sodat ek die vroumens dorp toe kan neem.”
“Asseblief, asseblief, dis nie reg nie!” huil-pleit sy, maar hy veeg haar uit die pad. Fokus sy swart blik op Andries wat weer in die deur verskyn het.
“Seun? Seun, kry murg in jou pype, man! Kom vat hierdie kind en hou hom in ’n kamer toegesluit tot ons gery het. As hy weer naby my kom, skiet ek hom vrek, hoor jy my!”
Andries bly staan, wit soos melk. Sy lippe beweeg, maar hy kan nie reageer nie.
“Liesbet!” Dis Ma se stem, helder en gebiedend bo die geroesemoes in die vertrek. “Kom vat vir Benna.”
“Ma …”
“Jy’t die man gehoor, hy gaan vir Benna saamvat dorp toe. Kom vat hom en hou hom by jou tot ons weg is.”
“Maar, Ma, dis nie reg …”
“Elisabet, maak soos ek jou sê!”
Ma se stem het daardie noot in waarteen ’n mens jou nie verset nie. Dis kliphard, suiwer staal, en niemand wat ooit dié noot gehoor het, het daarna oor enigiets gestry nie, nie eers Pa nie.
Ma draai na Benna, neem sy gesig tussen albei haar hande. “Bly hier by Sussa, Benjamin. Sy gaan vir jou ’n storie lees, een uit die Bybel. Die een van die verlore seun waarvoor jy so lief is. Toe, luister nou mooi vir Ma, en luister mooi vir Liesbet. Ek moet gou dorp toe gaan, maar as jy mooi soet luister, koop ek vir jou borssuiker by Leschinski. Toe, my ou groot seun, jy verstaan mos wat Ma vra?”
Die huil en die angs en die benoudheid het teen hierdie tyd so dig op haar bors saamgepak dat sy skaars kan asem kry. “Ma …”
Maar Ma stoot net vir Benna in haar arms in.
“Maak seker hy sien nie wat gebeur nie. Kyk na die kind, Elisabet, maak seker hy’s versorg. Ouboet, help jou suster, jy los haar nie alleen met alles nie.” En vir die polisiemanne: “Los die boeie. Ek kom uit my vrye wil saam, julle kan my in die motor boei.”
Hulle is al amper op die stoep toe sy Ma hoor vra: “Waar is die .22? … Nou loop haal dit, julle het dit nodig as ’n bewysstuk!”
Konstabel Pienaar kom teruggehardloop om die .22 te kom vat.
“Konstabel, wat gaan nou gebeur? Waar gaan julle met my ma heen?”
“Dorp toe, selle toe,” sê die konstabel. “Ons gaan haar daar moet hou tot hulle ’n vangwa van Vryheid af kan stuur om haar te kom haal.”
“Vryheid toe?” vra sy onnosel. “Maar wanneer kom sy dan huis toe?”
Die konstabel kyk haar verstom aan. “Jou ma gat nie huis toe kom nie, meisiekind. Sy’t gemoor, haar wettige man nogal, en die staatsaanklaer gat nie vir haar genade hê nie.”
“Maar … Gaan julle nie na haar kant van die saak luister nie? Daar moet mos ’n hofsaak wees, en die landdros moet mos eers al die bewyse en goed sien. Ons kan vir haar ’n prokureur kry, hy kan vir die landdros vertel wat gebeur het.”
Die konstabel skud sy kop meewarig. “Sy’t klaar erken, meisiekind. Daar’s niks verder om te sê nie. Sy’t haar man vermoor, en jou ma gat swaai, nes Anna Rabie en Daisy de Melker. Dis hoe die gereg maak met vroumense wat nie die heilige eg respekteer nie – hulle swaai.”

ISBN: 9780639704494
Prys: R350
Publikasie datum: Oktober 2022
Uitgewer: Boekdiva Uitgewers
Formaat: Sagteband 198 x 129mm
Bladsye: 520