Hierdie is nie ‘n storie van rags to riches nie. Phoebe Abrahams
se mense van Grassy Park in die Kaapse Vlakte het immers status en styl gehad. Sy was boonop sexy én slim. G’n wonder die skrander senior student van Kommadagga in die Oos-Kaap,
Jakes Gerwel, het haar op die UWK-kampus raakgesien nie.
Sy het hom leer ken as Gert. Wat ‘n lelike naam, het sy gedink. Ook nie juis waffers wat looks betref nie. Maar
toe sy hom die eerste keer in ‘n Filosofieklas met digterdosent Adam Small hoor praat, is haar voorbehoude oor sy naam en voorkoms eensklaps vergete.
Die
opgang wat Jakes-wat-Gert-was in die akademie en politiek gemaak het, was buitengewoon. Later, as visekanselier van die universiteit wat ’n tuiste vir linkses
was, en as direkteur-generaal in die kantoor van Nelson Mandela, het hy ’n enorme rol in ons politieke oorgang gespeel. As sy lewensmaat het Phoebe die wêreld
gesien, en ontmoet. Sy was vir die rol uitgeknip.
Tien jaar ná Jakes se onverwagse dood vertel Phoebe met haar kenmerkende sin vir humor aan die
gewilde skrywer Rachelle Greeff van hoogtepunte in hulle lewe saam.
Sy maak ook haar hart oop oor haar sielsallenige laagtepunte en oor die
"donker derde party" wat in haar en Jakes se huwelik nesgeskop het: ‘n ongeneeslike geestestoornis. Maar met die regte hulp, begrip van geliefdes en
deursettingsvermoë was dit nie vir Phoebe ‘n doodsvonnis nie, en was selfs ‘n skreef lig meermale vir haar genoeg.
Nelson Mandela het met hulle
eerste ontmoeting verklaar dat hy nou verstaan waarom Jakes Gerwel die wêreld wil verander. Phoebe is inspirerend, en lewer bewys van die
veerkragtigheid van die menslike gees.
Marcus Moore, half-Iers, roep sy armoedige ouerhuis in Skotland vaarwel toe ná 'n gewelddadige voorval.
Sy oë is vol blink klippies en hy klim op 'n skip na Suid-Afrika. Sy droombestemming is die diggings in Kimberley en later die woelige Goudstad.
Hy is nie alleen nie: die myne wemel van dromers. Hy leer legendariese fortuinsoekers, swendelaars en selfgemaakte magnate soos Barney Barnato,
ken. Hy skuur ook skouers met historiese figure soos Olive Schreiner, Cecil John Rhodes en Paul Kruger.
Dieper as Drome handel oor 'n
fassinerende tyd in ons geskiedenis en die verhoog is wyd – dit wemel van aksie en drama. Oor alles val die skadu van die Empaaier. Daar is
ook 'n tydlose liefdesverhaal aan die hart van hierdie roman. Dit is goed nagevorsde, lekkerleesfiksie in die tradisie van Lerina Erasmus en
Wilbur Smith, oor 'n tyd toe edelstene dieper as drome gelê het.
Heimwee is die storie van Mart-Mari wat moet terugkeer na die familieplaas sodat sy haar ma kan
begrawe en finaal kan afskeid neem van die familie by wie sy nooit tuis gevoel het nie. Maar in ʼn ondeurdagte oomblik betaal sy die
knutselaar-nutsman-van-langsaan, Anton Nieuwoudt, om saam te gaan omdat sy vir haar susters gelieg het oor ʼn man in haar lewe.
Gou besef sy dat hy hom nie laat gebruik nie. Hy is die alles-of-niks-tipe, wat haar dwing tot emosionele eerlikheid en die spieël
voor haar ophou sodat sy bewus kan word van haar aandeel in haar gekompliseerde familieverhoudinge.
Dit is ook die storie van
Liesbet Vermaak wat in die nadraai van die allergrootste vernedering alleen moet omsien na haar broers: Andries, die dromer, en
Benna, die kind wat alles verstaan, maar nie met die wêreld kan kontak maak nie. Wat die foto van die soldaat steel sodat sy kan
voorgee sy is getroud, maar dan op ʼn dag in Humansburg se hoofstraat opkyk in die helder heuning van Gert Niemand se oë en besef
haar leuen het haar ingehaal.
Dis ʼn storie wat strek oor geslagte, van mense wat so seer gekry het dat hulle swerf, maar
dis ook ʼn storie van heling. Boweal is dit die storie van moederskap, van die verskriklike prys wat dit soms vra, en van ma's wat
bo-oor die ewigheid sal reik om seker te maak hulle kinders is geborge.